Hierdie onderwerp is al soveel keer deur kundiges uitmekaar getrek, bespreek en weer op verskeie maniere aanmekaar gesit dat risiko in die boerdery al herhaaldelik holrug gery is. Ons kan boerdery risiko’s primêr in twee klasse plaas, te wete interne risiko’s en eksterne risiko’s.
EKSTERNE RISIKO’S
Voorbeelde hiervan is legio, normaalweg onbeheerbaar. Ek wil graag ’n paar noem wat aan die orde van die dag is:
Klimaatsverandering blyk al hoe groter realiteit te wees met die grootste bedreiging gesetel in groter skommelings in temperatuur, wind en reënval. Dit beïnvloed landbouproduksie direk en kan ook katastrofies wees vir die landbou ondernemer.
Marktoestande beide binnelands en buitelands. Ekonomiese konjunktuur kan groot probleme veroorsaak, maar kan ook geleenthede bied.
Politieke onstabiliteit binnelands en buitelands. Die politieke verwikkelinge in Europa is ’n sprekende voorbeeld wat kan gebeur en die onluste in KZN het nie net markte negatief beïnvloed nie, maar logistiek na uitvoer markte problematies gemaak.
Regeringsbeleid. Direkte inmenging deur owerhede wat ’n beleid van oormatige beheer volg. Inmenging vind op verskeie vlakke plaas op beide mikro- en makro ekonomies gebied. Mikro vlak bestaan gewoonlik uit wetgewing soos grond verdeling, belastings van alle aard, arbeids regulasies en grondgebruik. Op die makro gebied het ons die regering se beleid eerstehands ervaar met geen tarief beskerming vir storting van goedkoop buitelandse produkte (hoenderprodukte uit Brasilië). ’n Ander voorbeeld is die onlangse onbillike regulasies wat ingestel is deur die Europese Unie op die invoer van sitrus produkte, veral uit Suid-Afrika.
Dit is feitlik onmoontlik om al die eksterne risiko’s op te noem waarmee die Suid-Afrikaanse boer mee moet rekening hou. Van klimaatsverandering tot politieke onstabiliteit is die risiko’s legio.
INTERE RISIKO’S
Interne risiko wentel rondom besluitneming van die boerdery eienaar en sy bestuurspan.
Goeie besluitneming oor risiko aanvaarding of risiko vermyding kan alleen geneem word op grond van goeie inligting. Besluite geneem gerugsteun op feite dra ’n berekende risiko wat die element van onsekerheid tot die minimum sal beperk. Onsekerheid ontstaan dus wanneer besluite geneem word met min of geen inligting of uit emosie. Die kans vir mislukking is dan net soveel groter!
As alle besluitneming egter so klink klaar en helder was, sou boerdery ’n makliker beroep gewees het. Dit is so dat ’n boer somtyds besluite moet neem gegrond op sy sesde sintuig, veral wanneer weinig of geen inligting bestaan nie. Hierdie sesde sintuig word dan gerugsteun deur goeie boerdery ondervinding.
Die belangrikste faktor bly egter ’n vaste vertroue in Hom wat vir ons voorsien!
Johan Kapp, Landbou-ekonoom