TLU SA neem kennis van die boete van R160 miljoen wat die hof aan die Dipaleseng Plaaslike Munisipaliteit opgelê het weens die ernstige oortreding van omgewings- en waterwette. Hoewel dit op papier soos ’n oorwinning lyk vir omgewingsgeregtigheid, is die realiteit eenvoudig: die werklike skuldiges gaan nie gestraf word nie.
Die Dipaleseng Plaaslike Munisipaliteit is in die Balfour-landdroshof ‘n boete van R160 miljoen opgelê vir ernstige oortredings van die Nasionale Omgewingsbestuurswet en die Nasionale Waterwet. Tussen Desember 2018 en Augustus 2023 het die munisipaliteit groot omgewingskade veroorsaak deur onbewerkte riool in waterbronne en omliggende gebiede te stort.
’n Ondersoek deur die departement van landbou, landelike ontwikkeling, grondsake en omgewingsake, asook die departement van water en sanitasie, het gelei tot die hofsaak. Die munisipaliteit het skuldig gepleit en ‘n pleitooreenkoms bereik. Die hof het ’n boete van R160 miljoen opgelê, waarvan R40 miljoen opgeskort is vir vyf jaar, op voorwaarde dat daar nie verdere oortredings van soortgelyke aard plaasvind nie.
Die omvang van die skade wat veroorsaak is deur die munisipaliteit se nalatigheid, is skokkend – besoedelde riviere, vergiftigde grond en die verlies van vee het plaaslike gemeenskappe swaar getref. Hierdie tipe wanbestuur verwoes nie net ons natuurlike hulpbronne nie, maar ook die lewens van gewone mense wat van hierdie hulpbronne afhanklik is.
“Maar wat beteken hierdie boete regtig? Dit is die gemeenskap se geld, se swaarverdiende belasting, wat nou gebruik gaan word om die munisipaliteit se oortredings af te betaal,” sê Ronnie Schilling, streekbestuurder van die Oosstreek. “Intussen bly die werklike verantwoordelikes onaangeraak, sonder enige gevolge.”
TLU SA glo dat sulke oortredings daadwerklik aangespreek moet word. Ons vra dat daar meganismes ingestel word om die skuldiges direk aanspreeklik te hou – of dit individue binne die munisipaliteit of kontrakteurs is wat by hierdie nalatigheid betrokke was. Boetes wat bloot deur openbare fondse betaal word, straf nie diegene wat regtig verantwoordelik is nie.
“Dit is tyd dat ons gesamentlik verantwoordelikheid neem om ons omgewing te beskerm. Ons kan nie bekostig dat swak bestuur en gebrek aan aanspreeklikheid voortduur terwyl ons hulpbronne, die grondslag van ons toekoms, vernietig word nie,” sluit Schilling af.



