Hantering van die chaos – kan dit omgedraai word?
Die chaos op alle lewensterreine is nou reeds ’n bekende vir elkeen. Die ineenstorting van ons infrastruktuur en dienste het min van ons nie al getref nie. Swak paaie, onbetroubare kragvoorsiening, stotterende munisipale dienste, afwesige SAPD ondersteuning in vele opsigte, hernuwing of die verkryging van lisensies van alle soorte en dan besef mens net dat die begrip funksionering inderdaad ’n ander betekenis gekry het. Duidelik is effektiwiteit nie vir baie persone enigsins belangrik nie.
Die vraag kan tereg gevra word of hierdie chaotiese omstandighede nog omgedraai kan word? ’n Goeie begin sal wees om by die werklike oorsaak van die toestand te begin. Dit help tog niks om deurentyd net die simptome van ’n probleem aan te spreek terwyl die oorsaak aanhoudend voortgaan om nuwe “simptome” te genereer nie. Die oorsake moet geïdentifiseer word.
Baie redenasies kan gevoer word, maar kan daar elke keer teruggekeer word na een oorkoepelende oorsaak naamlik die gevolge van die beleidsomgewing wat tans in die land toegepas word. Dit maak dit vir ons moeilik om enigsins vanuit die moeras geskep positiewe uitkomste te verkry.
Ons het nie ’n keuse anders as om positief ’n verskil te maak nie. Dit is ons aan ons kinders en kleinkinders verskuldig. Die glybaan na mislukking kan tog nie vir ons aanvaarbaar wees nie.
Ons moet vashou aan ons waardes en elkeen moet by hom- of haarself begin en die keuse maak oor waar gaan ons ons energie spandeer om te help om die verskil te maak wat nodig is. Met ’n stotterende regering lê die toekoms grootliks in ons eie hande. Dit gaan meer van ons verg anders as om net suksesvol te boer (wat noodsaaklik is) indien ons ’n toekoms wil skep vir ons nageslag. Die besef dat ons die kultuuropdrag vanuit die Woord moet nakom kom dan baie duidelik na vore.