Sy kon nie langer die verwoestende effek van veediefstal op haar plaas gade slaan nie en het besluit geen krimineel gaan haar ore aansit nie – maak nie saak hoe georganiseerd hulle is nie.
Geen wonder nie Celia Beukes was vanjaar die individuele wenner van TLU SA Landelike Veiligheid Trofee.
“Veediefstal op die plaas het handuit geruk en dit het vernietigende effek gehad. Ons het meer as 400 skape – waarvan die meeste jong ooie was – verloor weens diefstal. Dit was duidelik die werk van georganiseerde sindikate. Dit kon nie langer so aangaan nie. Opgee is nooit ’n opsie nie…” vertel Celia.
“Dit was nodig om deeglike plan bymekaar te sit. Ek het baie navorsing gedoen. Daar was ook gesprekke met ander boere en kenners. Dit was belangrik vir my om soveel as moontlik inligting te versamel en die beste moontlike besluit vir die plaas te neem.”
Sy het kameras en beams geïnstalleer. Vir krag maak sy van sonpanele gebruik. Krale vir die skape is in die oopveld en daarom is waarskuwing van oortreders noodsaaklik.
“As ’n beam afgetrap word, gaan die alarm af. Ek kry ook dadelik kennisgewing op my selfoon. Ek kan dan op die kameras kyk wat die oorsaak van die alarm is. Soms is die lawaai van die alarm reeds ’n afskrikmiddel. As ek egter moet uitgaan, maak ek seker ek is veilig sover as wat ek kan. Wanneer ek moet uitgaan besef ek daar is risiko betrokke, maar ek is nie bang nie. Maar darem ook nie domastrant nie!
Celia beklemtoon dat aksie egter ’n noodsaaklikheid is. “Moet nooit die alarm ignoreer nie. Indien jy nie reageer nie kom die kriminele dit agter en wat help al jou alarms dan?”
Ofskoon sy haar probleem met groot sukses aangespreek het, is die huidige stand van sake steeds onaanvaarbaar.
“Mpumalanga is veronderstel om die grootste wolprodusent in die land te wees en tans lewer die streek minder as Lesotho! Baie boere het hul skape verkoop, want alles het net te veel geraak. Skaapboerdery is baie intensief. Ons het egter ’n familie-plaas – ons as familie en ons werkers is afhanklik van die plaas – dus kan ons nooit aan opgee dink nie.”
Celia is nie alleen in haar stryd op haar plaas nie, dit is elke boer en elke vee-eienaar in die land se stryd en dit is nog lank nie verby nie.
“Tans doen ek navorsing oor opsporingstoestel vir diere. Sowat ses jaar terug was dit ’n nuwe tegnologie en baie duur, maar nou is dit al goedkoper en makliker bekombaar.”
Sy moedig haar mede-boere aan om soveel as moontlik navorsing te doen. “Elke boer het unieke situasies en daarvolgens sal unieke oplossing oplossings gevind word. Wees ontvanklik vir die gebruik van tegnologie. ’n Groot verskeidenheid van produkte is beskikbaar. Dit is belangrik dat boere van al die opsies weet en daaroor besin.”
Celia is tans voorsitter van VIS (Veediefstal Informasie Sentrum) in Mpumalanga. “Dit is belangrik om te weet wat die impak van veediefstal op provinsiale en nasionale vlak is. Ek moedig boere aan om betrokke te raak by organisasies soos VIS of jou plaaslike buurtwag. Wees aktief op die WhatsApp-groep. Rapporteer en kommunikeer.”
Ander raad wat sy het, is om betroubare tegnologie te soek.
“Dit is jou keuse: verloor alles (honderde duisende of selfs miljoene rand) of betaal duisende en beveilig jou diere. Daar is minder plek vir kriminele as almal saamwerk.”