Onnadenkende toekenning van permitte en lisensies vir mynbou-aktiwiteite en onvoldoende navorsing by toekenning van sodanige vergunnings, bedreig nie alleen Suid-Afrika se landbou nie, maar ook die sensitiewe fauna en flora van gebiede wat reeds swaar onder besoedeling, omgewingswanadministrasie en gebrek aan beskerming van sensitiewe ekologiese gebiede gebuk gaan.
Die omgewingsbewaringsorganisasie, Lewende Limpopo (Living Limpopo), se navorsing het die verbysterende omvang van die voorgenome mynbouverwante ontwikkeling van die MM-SEZ projek bekend gemaak.
Die gebrek aan begaandheid oor Suid-Afrika se ryk nalatenskap aan fauna en flora, burokratiese versluiering van die omvang van verlies aan natuurlike erfenis en ondeursigtige hantering van die impakstudies wat met veel groter verantwoordelikheid en kundigheid hanteer behoort word, laat die inwoners van Limpopo en omgewingskundiges in Suid-Afrika sprakeloos, sê Dawid Maree, voorsitter van TLU SA se Komitee vir Omgewingsbestuur.
Die aankondiging dat 600 000 beskermde bome vernietig sou kon word om steenkoolontginning in Noord-Limpopo moontlik te maak, wek ʼn front van beswaar en weerstand teen dié voorgenome mynbou-aktiwiteite op, voeg Maree by. “Die hele bosveld noord van die Soutpansberg word deur vernietiging van die fauna en flora in die gesig gestaar.” Nie alleen die volhoubaarheid van landbou is ernstig in die gedrang nie, maar die voorgenome ingrepe op die natuurlike omgewing kan ook toerisme en die jagbedryf ernstig knou.
Maree doen voorts ʼn beroep op alle belanghebbendes en bekommerde inwoners oor die voorgenome ontwikkeling, om hul gewig by die beswaarmakers in te gooi. Volgens Lauren Liebenberg word meer as 125 000 hektaar inheemse plantegroei in die Vhembe Biosfeer Reserwe deur die beoogde MM-SEZ projek, waarby tien nuwe oopgroefsteenkoolmyne betrokke is, bedreig.
Lewende Limpopo het dokumentêre getuienis ingewin wat verband hou met toekenning van vergunnings om beskermde bome op MM-SEZ terreine te vernietig. Van die 658 058 beskermde bome is minstens 10 000 kremetartbome in die suidelike area wat vir ontginning geoormerk is. ʼn Verdere 10 000 kremetartbome staan gevaar om in die noordelike area vernietig te word. Die rekords wat deur die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing ingevolge ʼn aansoek onder die Wet op Beskerming en Toegang tot Inligting blootgelê is, dui daarop dat twee van die talle aansoeke om lisensies deur MM-SEZ sedert 2020, reeds toegeken is vir mynbou-aktiwiteite in die noordelike ontginningsgebied. Dié vergunnings beoog die vernietiging van 1 000 kremetart- en ander beskermde en ekologies-sensitiewe bome.
TLU SA voeg sy stem by dié van ander beswaarmakers oor die ekologiese impak wat die voorgenome ontwikkeling kan hê, die negering van besware dat die omgewingsimpakstudies in wesenlike opsigte gebrekkig was en dat die nodige omgewingsvergunnings ten spyte daarvan uitgereik is. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, voeg by dat die werklike impak van hersonering van die Vhembe vanaf natuurlike fauna en flora-gebied na dié van steenkoolontginning en swaar industriële aktiwiteite, nie alleen die sensitiewe ekologie permanent kan beskadig nie, maar dat die impak op landbou-eiendom, die gesondheid van naasliggende gemeenskappe en blywende skade aan savanna en ander ekostelsels vernietigend kan wees.
TLU SA verklaar sy waardering vir Lewende Limpopo se navorsing en sterk teenstand teen die voorgenome mynbou-aktiwiteite en roep belanghebbendes en ander gemeenskapstrukture op om die voorgenome ingrepe op Suid-Afrika se fauna en flora in die Vhembe-gebied teen te staan.
Foto: iStock



