Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Op 13 September 2021 het Xolile George, die Hoof Uitvoerende Beampte van SALGA – wat ’n nasionale vereniging is as verteenwoordigende liggaam vir die 257 munisipaliteite in Suid-Afrika – ’n beëdigde verklaring onderteken waarin hierdie instansie ’n mosie in die Gauteng se Hooggeregshof aanhangig gemaak het, insake elektrisiteit lewering in SA. Hoewel die aanvanklike mosie gerig is aan instansies soos onder andere Eskom en die Ministers van Minerale Sake asook Openbare Ondernemings, COGTA en NERSA, is hierdie ’n aangeleentheid wat elke inwoner in SA gaan raak.

Die primêre aansoek is in terme van die lewering van elektrisiteit binne munisipale grense. Daar is tans twee tipe kliënte waaraan elektrisiteit voorsien word: vanaf die munisipaliteit met hulle addisionele heffing om wins daaruit te maak en die lewering direk aan kliënte vanaf Eskom met kostes soos vasgestel. SALGA verwys in hul aansoek na die Plaaslike Regering Sisteme wetgewing 32 van 2000, sowel as die Grondwet wat aan hulle uitvoerende magte gee om dienste te lewer binne die grense van die munisipaliteit. Hierdie magte was uitgebrei na aanleiding van die rug-aan-rug konsep van munisipaliteite wat sedert 1996 in werking getree het. SALGA se mosie dui daarop dat daar vanuit ’n regsoogpunt aan munisipaliteite uitsluitlike eksklusiewe uitvoerende magte gegee moet word oor die elektrisiteitsnetwerk.

Munisipaliteite se hoofinkomste is uit eie gegenereerde inkomste waarvan elektrisiteit die grootste bron is. SALGA maak geensins melding in die verklaring oor die “onderhoud” wat op munisipale netwerke gedoen moet word uit die wins nie, slegs dat hierdie wins ander dienste subsidieer binne die diensleweringsnetwerk van die munisipaliteit.

Addisioneel hiertoe is daar blykbaar dan nou ook diskriminasie teen gebruikers aangesien die munisipale kliënte meer moet betaal terwyl Eskom se kliënte die basiese koste gehef word. Waar die munisipaliteite direk vanaf Eskom in grootmaak elektrisiteit ontvang, moet daar ook in ag geneem word dat daar binne die raamwerk ruimte geskep word vir onderhandelinge om ’n laer tarief daar te stel vanaf Eskom. Met spyt word hierdie opsies geensins in die verklaring bespreek nie.

Verder word daar ook duidelik gemeld dat munisipaliteite hulle mag nie kan toepas deur die krediet beheer meganismes om dienste aan kliënte te weerhou waar daar moontlik vir ander dienste wat in die meeste gevalle nie gelewer word nie, te betaal nie. In werklikheid erken SALGA dus dat intimidasie tegnieke toegepas word teen hulle verbruikers – betaal alles wat die keiser begeer of jou dienste word weerhou – of jy vir die spesifieke uitgesonderde diens betaal het al dan nie. SALGA moet dalk eerder oorweeg om dienslewering ’n hupstoot te gee sodat daar aanmoediging is onder die kliëntebasis om maandeliks die uitstaande skuld te vereffen. Vanuit beloftes wat gemaak word voor die verkiesing wat nie kan realiseer nie, is dit egter ’n probleem sonder ’n oplossing.

In die verklaring word slegs die dienste van straatligte aangespreek wat blykbaar nou ’n invloed het op veiligheid. Ander aspekte van veiligheid binne die munisipale grense word geensins aangespreek nie terwyl die verswakte polisiëring die hoofrede is vir die bedreiging van die inwoner se veiligheid. Op die platteland word daar oorgeskakel na sonkrag straatligte wat ’n ideale oplossing is nie net uit ’n finansiële oogpunt nie, maar ook die druk verlig op die elektrisiteit voorsiening.

SALGA sien sy mosie as ’n wen-wen situasie – hoewel die enigste wenner die plaaslike regering sal wees om sy wanadministrasie, onvrugbare en nuttelose verkwisting van fondse en diefstal verder te finansier. Eskom wat reeds aangedui het dat munisipaliteite huiwerig is om vir die diens vanaf Eskom te betaal, se situasie word ’n laaste steek in die doodskis gelaat aangesien Eskom se enigste kliënt dan plaaslike regering sal wees, wat nie betaal vir die diens nie. Dit is reeds ’n uitgemaakte saak dat Eskom die diens nie mag weier nie aangesien die eindverbruiker op grondvlak wel sy rekeninge betaal.

Die voorbarige optrede van SALGA om uitsluitlike eksklusiewe magte te vereis oor die elektrisiteitsnetwerk is weereens die bewys tot watter mate plaaslike regering sal toetree om homself te finansier. Wat SALGA moontlik nie besef nie, is dat hierdie netwerk onderhoud verg. Die grootste gedeelte van die elektrisiteitsnetwerk is lyne wat reeds oud is en die onderhoud daarvan verg baie befondsing.

Uit die huidige situasie binne munisipaliteite is dit reeds duidelik dat onderhoud nie as ’n primêre oorweging geskenk word nie om die ligte aan te hou as die onophoudelike kragonderbrekings binne die munisipaliteit se eie bestaande netwerke in ag geneem word. Verder besef SALGA ook nie dat die “oorneem” van die netwerk beteken dat die huidige serwitute waarvan Eskom die begunstigde is, die ooreenkoms sal beëindig. Wetgewing bepaal dat serwitute se begunstigde nie “oorgedra” kan word nie. Daar moet dan nuwe ooreenkomste aangegaan word. Die huidige reputasie van munisipaliteite gaan hulle geensins ’n goeie voetjie in die deur gee by grondeienaars om ’n ooreenkoms sonder teenstand te bevestig nie.

Wat die gebruiker op grondvlak moet besef is dat daar reeds ’n dooie perd is en die ruiters is in ’n stryd om hierdie perd te ry. Dit is werklik die oortuiging dat verbruikers slegs die ligte sal kan aanhou in die afsienbare toekoms teen ’n bekostigbare tarief indien alternatiewe privaat ontwikkelde kragbronne ontgin en geïmplementeer word.

 

Groete,

ERIKA