Tydens TLU SA se jaarlikse kongres gehou op 7 September 2022, was die klem weereens geplaas op die funksie van munisipaliteite en die tekortkominge wat ondervind word by die plaaslike regering komitee.
Plaaslike regering bevind homself in ’n ernstige penarie en word hierdie kwessie afgewentel na die grondeienaar en inwoner van die gebied wat ernstig benadeel word. Wanneer die situasie van nie-funksionerende munisipaliteite beoordeel word veral in die lig van die tekortkoming van dienste, moet daar oorweging geskenk word aan die vlak van die tekortkominge en die probleme wat ondervind word om die oplossing binne daardie raamwerk te vind.
’n Sesde van die totale 257 munisipaliteite het ’n skoon oudit ontvang. Dit is ’n skamele 2.33%. Hierdie syfer is vanselfsprekend ’n aanwysing tot ernstige finansiële onvermoë binne munisipaliteite en moet daar besef word dat waar ’n munisipaliteit nie eers sy geldsake behoorlik kan bestuur en beheer nie, daar ook ’n tekortkoming sal plaasvind oor die basiese dienste wat gelewer word. Hierdie tekortkoming is nie meer beperk tot die klein dorpies nie, maar groter dorpe en selfs metro’s ondervind dieselfde probleme.
Twee-derdes van die inwoners van die land is 34 jaar of jonger volgens statistiek SA. Daar is dus ’n inwoner groep van jongmense wat geakkommodeer moet word binne die model van ontwikkeling in SA. Binne elke munisipaliteit moet daar die nodige werkskepping projekte onderneem word om hierdie mense te akkommodeer en is ekonomiese ontwikkeling die basis van hierdie aspek. Wat egter in die besigheidsektor in dorpe ondervind word, is die teenoorgestelde. Die besigheidsektor kan nie uitbrei en ontwikkel nie aangesien die basiese dienste ontbreek en ekonomiese ontwikkeling word dus gekniehalter deur die besigheidsektor wat weens die gebrekkige dienslewering geen ander keuse het nie. Die grootste voorbeeld hiervan is verseker Clover se onttrek uit Lichtenburg. Die rimpeleffek wat geskep word is werkloosheid wat verhoog op die algehele omgewing van die inwoners van die land.
Een van die grootste behoeftes is verseker watervoorsiening. Daar is nie ’n alternatief nie en lewe kan nie sonder water bestaan nie. ’n Verlies aan water verspreiding is aanvaarbaar tussen 15 en 30% en enigiets bo 30% is ’n teken van swak onderhoud en bestuur. Ongeveer 50% van munisipaliteite toon ’n verlies bo 30% volgens die Ouditeur-Generaal. Hierdie is ’n uiters kommerwekkende situasie in die opsig dat SA ’n waterskaarste kontinent is en die druk op waterbronne is bo normaal hoog. Dit is dus geensins verbasend dat munisipaliteite tekort strek om water te voorsien aan al die inwoners nie.
Die tekort aan basiese dienste het ’n breekpunt bereik waar dit onuithoudbaar geraak het vir die publiek en frustrasies is gedryf tot ‘n hoogtepunt. Die opsies wat deur inwoners oorweeg en uitgevoer word sluit die volgende in:
- Inwoners wat dit wel kan bekostig oorweeg om self die dienste te lewer. Die belastingbetaler moet dus buiten die eiendomsbelasting en betaling van dienste wat afwesig is, addisioneel betaal vir die dienste wat self gelewer word. Dit dui dus op dubbele betaling vir dieselfde dienste.
- Daar word ook oorweging geskenk om litigasie teen munisipaliteite te aktiveer om afdwinging te bewerkstellig vir die lewering van dienste vir betaling wat reeds ontvang is. In die opsig is dit hoë finansiële kostes in ’n regsgeding waarvan die uitkoms nooit verseker is nie.
- Die behoeftige inwoner in die munisipale gebied het nie die hulpbronne om die boonste twee stappe te oorweeg nie. Die enigste alternatief is protes optogte om die munisipaliteit en regering te dwing tot dienste. Hierdie is ’n tipe van intimidasie wat gevolg word om die regering te dwing om aan die vereistes te voldoen hoewel dit nie altyd prioriteit versoeke is nie. Die munisipaliteit onderwerp homself aan die intimidasie tegnieke en word belastinggeld gebruik om aan die vereistes van die behoeftige en meestal werklose of werksoekende inwoners te voldoen. Volgens statistiek is daar 3,58 miljoen behoeftige huishoudings in SA geïdentifiseer deur munisipaliteite wat kwalifiseer vir hierdie gratis dienste wat dan afgedwing word.
Wat staan munisipaliteite te doen om aan die vereistes van die inwoner van die land te voldoen?
Fondse om aan die vereistes te voldoen is nie meer geredelik beskikbaar van die staatskas nie en bydraers tot die fondse van die staat is besig om ernstig af te neem veral in die lig van bekwame en gekwalifiseerde persone wat die land verlaat. Verder is die gebrek aan ekonomiese ontwikkeling soos bo vermeld ’n ernstige kwessie wat werkloosheid laat styg en so ’n invloed het op die finansiële vermoë van die inwoner en die nasionale regering om munisipaliteite finansieel by te staan.
Die enigste oplossing wat munisipaliteite kan volg, is om sy bron van inkomste te verhoog om te voldoen aan die vereistes. Wanneer daar dan in diepte gekyk word wat die spesifieke bron van inkomste is waarop die munisipaliteit kan konsentreer, is eiendomsbelasting definitief onder die vergrootglas. Die inwoner van die land gaan in so ’n mate uitgebuit word om aan die vereistes van die munisipaliteite te voldoen dat die plaaslike regering nie meer bekostig kan word nie.
Bogenoemde kwessies is sake wat dringend aangespreek moet word ten einde geskikte oplossings te vind vir die grondeienaar wat die kern in hierdie bedreiging geword het vir voortbestaan.
TLU SA onderneem om na die kongres bogenoemde kwessies aan te spreek deur oplossings te vind om die grondeienaar as bydraer tot die ekonomie volhoubaar op sy grond te hou.
Foto: Benjamin Child | Unsplash