Dit is verkiesingsjaar en ons besef dat daar nie rasionele besluite geneem word nie, maar eerder populistiese en emosionele besluite. Die aankondiging van die nuwe minimum loon wat op 1 Maart 2024 van krag sal wees is bewys hiervan. Eerder as om op werkskepping te fokus, gebruik die ANC ‘n verhoogde minimum loon om stemme te koop.
TLU SA bevraagteken of die kommentare wat ingedien is enigsins gelees en of die logiese, rasionele argumente oor die daarstel van ‘n minimum loon in ag geneem is en neem standpunt in teen die besluit.
Ondernemers streef in uiters moeilike omstandighede, wat grootliks aan die regering se onbevoegdheid te danke is, na winsgewendheid. Nou vereis wetgewing dat ‘n uurlikse loon van R27,58 betaal moet word. Tog betaal die regering self net R15,16 per uur aan diegene wat aan staatsprojekte werk – ‘n bedrag wat bykans ‘n hongerloon is indien huidige lewenskostes in ag geneem word. Dit blyk vir hul maklik om vereistes aan ander te stel waaraan hulle self nie kan voldoen nie. Dit terwyl Suid-Afrikaners se belasting gebruik word om staatsprojekwerkers te vergoed.
Die vraag is dus, hoe word daar van ons verwag om wetgewing te gehoorsaam as die regering dit self nie eers doen nie?
Ondernemers fokus deurentyd op winsgewendheid – dit is tog wanneer ‘n besigheid as suksesvol beskou word. Hulle moet produksiefaktore, soos natuurlike hulpbronne, entrepreneurskap, arbeid en kapitaal, bestuur om sukses te behaal.
Tradisioneel het net bogenoemde vier produksiefaktore gegeld, maar vandag is tegnologie die vyfde faktor. Dit word toenemend ‘n oorweging vir ondernemers om werkers met masjiene te vervang.
Die 8,5% styging in die minimum loon sal verdere afleggings teweegbring.
Wie praat namens die werkloses?
“TLU SA het deurlopend aan die regering gevra, wie praat namens die werkloses,” sê Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder. “Met die werkloosheidsyfer wat steeds hoër klim sou die verantwoordelike besluit oor minimum lone eerder gewees het om markkragte toe te laat om indiensneming te reguleer.”
Die onlangse aankondiging sal ondernemers dwing om dringende besluite oor hul arbeidsmag te neem ten einde steeds suksesvol te wees. Die vraag is dan of die regering waarlik werknemers met ‘n minimum loon help as dit kan lei na die verlies van werksgeleenthede.
Elke ondernemer moet oor hul eie volhoubaarheid besluit. Arbeid kan vervang word met tegnologie.
“Dit is diskriminerend van die regering om ‘n minimum loon te stel vir werknemers wat reeds in diens is. Die laer kategorie werker sal as’t ware geoffer word aangesien meganisasie nou die enigste uitweg vir produktiewe vooruitgang is,” meen Erika Helm, voorsitter van TLU SA se plaaslike regering komitee. “Dit word betreur dat die regering se kortsigtigheid verdere afleggings kan teweegbring.”
Ook in landbou gaan dit meebring dat aanpassings gemaak moet word. Om produktiwiteit te verbeter sal boere al hoe meer meganisasie moet oorweeg.
Indien die regering nie daarop fokus om besigheidsgroei te stimuleer en korrupsie hok te slaan nie, stuur Suid-Afrika op ‘n ramp af. Die privaatsektor moet toegelaat word om, volgens markgerigte ekonomiese beginsels, besigheid sonder oormatige beperkings te bedryf.
TLU SA stel dit aan die regering dat hulle benadering ten opsigte van die hantering van arbeid nie in belang van volhoubare besigheid is nie. Arbeiders wat hul verantwoordelikheid aanvaar en hul plig nakom het nie minimum loon nodig nie. Hulle sal ‘n loon wat ver verhewe bo ‘n minimum loon is verdien. Daar behoort eerder op vaardigheidsontwikkeling en opleiding gefokus te word sodat kundige arbeiders ‘n positiewe rol kan speel.
Lees meer oor die voorlegging wat deur TLU SA, Saptu, NEASA en Saai gemaak is hier.
Foto: Pixabay