Na die jarelange droogte in dele van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap word ervaar dat na die onlangse reën die veld begin herstel het. Weiding is beskikbaar, maar van die boere het reeds hul kuddes verloor soos die droogte voortgeduur het. Om weer lewensvatbare plase in baie gevalle te kan begin, gaan tyd neem.
Van die boere het geen vermoë om selfs ’n paar ooitjies te kan koop om weer te begin nie. Om vanuit ander gebiede hulp in die vorm van skape te bring, is ook nie noodwendig die oplossing nie as gevolg aanpasbaarheid op die veld. Die vraag word gevra of ander boere moontlik kan help met ’n paar ooie of die finansies om aangepaste ooie te kan koop en dat daar na die eerste aanwas betaal kan word vir die ooie wat in praktyk dan “geleen” is vir die tyd.
Hierdie is net ’n poging om te kyk in hoe ’n mate boere met geen veekudde oor nie, moontlik weer in produksie kan kom. Indien daar enige boere is wat met so tipe model (wat aangepas kan word volgens behoefte en omstandighede) kan help, verneem ons graag van julle. Stuur asseblief ’n e-pos na sekretaresse@tlu.co.za





