Ons staan in die sesde maand van 2024. So het die jaar dan nou ook al halfpad verbygevlieg en het daar ‘n paar interessante gebeure plaasgevind. Een daarvan was natuurlik die verkiesing. Ons sit vandag met ‘n nuwe Regering van Nasionale Eenheid. Wat dit alles vir ons inhou, sal ons met tyd sien. Met mnr. John Steenhuisen wat as die nuwe Minister van Landbou aangewys is, glo ons dat hy ‘n nuwe dimensie in landbou vir ons sal bring, mits die regering dit toelaat. Ons is opgewonde oor sy aanstelling en hoop dat dit voordelig sal wees vir boere in georganiseerde landbou.
Na die verkiesing het ons ‘n drastiese styging gesien in plaasaanvalle en -moorde. Ek verwys na die mediaverklaring wat ons uitgestuur het waarin ons sê dat hierdie aanvalle en moorde as terreur beskou kan word. Juis daarom sal ons lede en georganiseerde landbou en gemeenskap nuwe planne moet maak om hierdie nuwe aanslag die hoof te bied. Dankie tog vir plaas- en buurtwagte wat reeds bestaan, maar daar sal steeds dringend gekyk moet word na beter beplanning en meer doelgerigte, daadwerklike optrede vanaf grondvlak. Ons hoop die nuwe regering sal ook iets daaromtrent doen.
Ons nooi alle TLU SA lede uit om nuwe beplanning op grondvlak te doen, en hande te vat met ander organisasies om georganiseerde planne te beraam om hierdie aanslag die hoof te bied.
Ons doen ‘n beroep op boere om in Julie te poog om soveel as moontlik voorbranding in plek te stel vir moontlike veldbrande later in die seisoen. Op hierdie manier sal ons skade en verliese beperk.
Ons sien uit na die TLU SA Kongres wat eersdaags plaasvind. Ons doen ‘n beroep op ons lede om soveel as moontlik die Kongres in persoon by te woon en aktief daaraan deel te neem.
Ons wens al die boere sterkte toe met wat oor is van die res van die jaar waar voorbereidings gedoen word vir die nuwe plantseisoen. Boere sal op hulle knieë bly en glo en vertrou en weet daar hulle krag vandaan kom.