Tydens die inperkingstyd weens Covid-19 het baie instellings soos organisasies en kerke die probleem ervaar van persoonlike skakeling tussen hul lede of lidmate en het mense al hoe verder van mekaar begin dryf. Aanlyn-interaksie het die norm geword wat gewis ook bepaalde voordele inhou. Ons het byvoorbeeld ervaar dat persone wat baie ver van TLU SA se hoofkantoor geleë is meer geredelik inskakel by vergaderings. Dit is ook veiliger en meer kostedoeltreffend vir persone wat nie meer ver afstande op die paaie wil ry nie.
In die praktyk word egter ervaar dat vergaderings waar daar persoonlike interaksie plaasvind steeds die beste wyse van kommunikasie bly. Die skakeling na die tyd rondom ’n braaivleisvuur bring in baie gevalle eintlik al die antwoorde behoorlik na die tafel. Ons wil graag versoek dat die fisiese vergaderings gegewe die inperkingmaatreëls nie agterweë moet bly nie.
Affiliasies moet gerus van ons leierboere of personeel gebruik maak om vergaderings te kom bywoon en inligting te verskaf oor die jongste gebeure. Ingeligte mense neem soveel beter besluite.