Plaasaanvalle op rekord dateer uit die middel tagtigerjare. Ongeag die feit dat dit in die laat negentigs, vyf jaar nadat die nuwe staatsbedeling in werking getree het, as ‘n Nasionale Prioriteitsmisdaad verklaar is, het die geweld net toegeneem en word landbouers, hul gesinslede asook plaaswerkers steeds daaraan onderwerp.
Benewens die geweldskomponent, het nie-gewelddadige misdaad ook met rasse skrede toegeneem namate die ekonomiese situasie in die land toenemend vererger het. Veediefstal (selfs op georganiseerde basis), diefstal van produkte, gereedskap, sonpanele, waterpompe, besproeiingsinstallasies, onwettige jag, betreding en besetting is aan die orde van die dag.
Die vraag kan dus met reg gevra word of die Prioriteitstatus van Landelike Veiligheid voldoende is om die situasie ten goede te stabiliseer?
Gegewe die algemene stand van die ekonomie, wat boonop deur die virus-pandemie verder versleg het, is die verwagting van die potensiële slagoffers of die owerheid werklik oor die wil en vermoë beskik om die situasie te beredder en te normaliseer?
Vir die huidige dui alles daarop dat die landbougemeenskap ongeag lidmaatskap van die onderskeie landbou-organisasies, hande sal moet vat om in die nasionale belang, weerstand te bied en effektiewe druk teen die owerheid te monster – die produksie van voedsel is immers ‘n basiese behoefte en behoort derhalwe ‘n nasionale prioriteit te wees. Benewens dit moet die buiteland met een gesamentlike stem van toestande alhier ingelig word.