TLU SA se Jongboer van die Jaar 2025 is vanaand tydens dié landbou-organisasie se jaarlikse kongres aangewys. Tiaan Barkhuizen (33) van Garies, het ‘n Dorperstoet, boer kommersieel met boerbokke en skape en is nou ook TLU SA se Jongboer van die Jaar 2025!
Tiaan se hoop vir die toekoms van jong boere en die landbou in Suid-Afrika is dat jong mense nooit moet ophou probeer nie, maar moet aanhou boer, vasbyt en help om minder plase onbewerk te laat lê. Hy glo dat landbou die hart van elke land is en hoop dat meer jongmense terug plaas toe sal gaan om voedselsekerheid te bou.
Thian Heyns is as die naaswenner aangewys, en Willem van der Merwe & Francois du Toit wat as vennote ingeskryf het, het derde plek in dié kompetisie behaal.
Die groot prys waarmee Barkhuizen vanaand wegry, is onder andere ‘n splinternuwe BYD-bakkie geborg deur Hatfield Motor Groep vir ‘n jaar se gebruik, sowel as R50 000 kontant, geborg deur Manitou. Santam borg die kontantpryse vir die naaswenner en derde plek.
“Dit is vir my ’n groot voorreg om saam met sulke uitstaande jongboere te staan,” sê Clemens Senekal, Voorsitter van die Jongboerkomitee. “Ons jongboere is die toekoms van landbou in Suid-Afrika. Hierdie wenners wys vir ons wat moontlik is met harde werk, visie en ’n liefde vir die plaas. Hulle gee hoop dat die volgende geslag boere nie net sal volhou nie, maar die bedryf verder sal uitbou.”
Verder is ‘n reeks trofees aan verskeie wenners oorhandig.
Bennie van Zyl sluit af: “Ons sluit vanjaar se Kongres op ‘n hoë noot af. Dankie aan elkeen wat deel was van ons Kongres. Saam laat ons landbou leef.”



