Die wyse hoe ’n pragtige woord soos transformasie verwronge gemaak is deur politici is hartseer. Soos dit vandag geraak het sou ’n definisie daarvan kon wees die verabsolutering van ras bo meriete.
’n Praktiese vergelyking sou kon wees om ’n lys van semi-staatsinstellings saam te stel soos wat hulle almal in 1994 redelik funksioneel doeltreffend was en om dan te kyk wat het van hul almal geword. Dink maar net aan instellings soos Eskom, SAL, Denel, spoorweë, hawens, veiligheidsdienste, ens. – noem maar op. Die werklikheid is dat daar nie een van hulle vandag in ’n beter toestand is as wat dit die geval was toe die ANC hulle ontvang het nie. Die woord transformasie soos wat die ANC dit toepas, is die oorsaak van hierdie sukkelende instellings. Die vraag kan tereg gevra word oor waarheen wil die transformasie-dissipels nog verder “transformeer”.
Kom ons fokus op daardie aspekte wat winsgewend is, want dit veroorsaak volhoubaarheid. Die aspekte wat nodig is om die ekonomie te laat groei behoort telkens die kriteria te wees waarteen enige beleidstandpunt getoets te word. Solank die ANC-regering nie dit gaan besef en ook toepas nie sal die glybaan van transformasie voortstu na die mislukkings van die wêreld.