Landbou-omstandighede in Suid-Afrika het ‘n kritieke punt bereik met wisselende opbrengste as gevolg van droogtes en ander faktore. Suid-Afrika se boere word met ‘n verskeidenheid uitdagings gekonfronteer, droogte teister reeds oor jare heen in verskeie provinsies. Buitengewone hitte-eenhede en die afwesigheid van reën in kritieke tye het die afgelope seisoen nie net somer saaigebiede beïnvloed nie, maar ook die veebedryf. Verder gaan boere gebuk onder ernstige misdaad en swak infrastruktuur.
“Boere worstel met voortdurende styging in insetkoste, terwyl die pryse vir hulle produkte in baie gevalle sywaarts beweeg, wat hul winsgewendheid beïnvloed. Dit dwing boere om innoverende oplossings te vind,” sê Bennie van Zyl, TLU SA se Hoofbestuurder. “Boere moet seker maak dat elke vertakking van die boerdery op sy eie winsgewend is en die nodige aanpassings moet betyds gedoen word.”
Die konsep van oorsaak en gevolg moet in gedagte gehou en geëvalueer word. Elke handeling het ‘n bepaalde nadraai – op die kort-, medium- en langtermyn.
Dit is baie belangrik om besluite met die nodige insig te neem, veral in ‘n boerdery met langtermyn, seisoenale omstandighede. Die entrepreneur, of in dié geval die boer, moet produksiefaktore bestuur en op grond van ondervinding keuses maak. Hierdie besluite beïnvloed die volhoubaarheid van sy produksieproses en sy winsgewendheid.
Boere word gedwing om keuses te maak binne die raamwerk van Suid-Afrika se beleidsomgewing – ‘n beleidsomgewing wat daagliks hulle realiteite beïnvloed en deur die regering van die dag op die samelewing geprojekteer word. Die impak van oorsaak en gevolg is dus nóg meer van belang op boere se rol as entrepreneurs.
Probleme wat ons tans in Suid-Afrika ervaar kan grootliks toegeskryf word aan die gevolge van die huidige beleidsomgewing. Klimatologiese omstandighede speel ook ‘n rol; natuurlik is dit nie die staat se skuld as dit nie reën nie. As hulle egter die belangrikheid en strategiese waarde van kommersiële boere sal besef, sal hulle alles in hul vermoë doen om dié mense in produksie te hou. Kos op die tafel is seker die grootste stabiliseerder wat ‘n land kan hê. ‘n Verantwoordelike regering sal besef dat rampe soos droogte, vloede en brande wat buite boere se beheer is en hulle uit produksie kan neem, so effektief as moontlik oorbrug moet word deur betyds maatreëls in te stel om landbouers by te staan sodat hulle steeds in die volgende jaar voedsel kan produseer.
Vandag se harde realiteit het ‘n impak op ons boere se gemoedstoestand. Hulle moet tans met finansiële instellings saamwerk om oplossings vir uitdagings soos skuld, rente en terugbetalings te vind. Die Suid-Afrikaanse regering gee hoofsaaklik landbouhulp aan klein boere wat net sowat 3% van ons land se kosmandjie vul, terywl kommersiële boere vir hulself verantwoordelik is. Hierdei gebrek aan ondersteuning vanaf die regering lei daartoe dat kommersiële boere finansieel, maar ook na hul eie veiligheid moet omsien.
Dit is tyd dat alle betrokke partye – boere, landbou-organisasies én die regering – ‘n gekoördineerde aanslag maak om die landbousektor te ondersteun. Dit is tog die kern van ons voedselsekerheid en daarsonder plaas ons nie net kos op die tafel in gevaar nie, maar ook die land se ekonomiese vooruitgang.
Volgens Van Zyl gaan die gebrek aan ondersteuning vir boere in ‘n bose kringloop verander wat nie voordelig is vir Suid-Afrika se reeds sukkelende ekonomie nie. “Suid-Afrika het as enigste volhoubare oplossing vir die armoede en werkloosheidsprobleem een ding nodig; ekonomiese groei. Dit beteken winsgewende besighede wat buiten die ander produksiefaktore, arbeid nodig het om te kan funksioneer. Neem die voedsel van die tafels af en alles sal tot stilstand kom.”