Wat is in my walaer?

Die gelofte kom uit ʼn verbondsverhouding – dit bepaal die werklike bedoeling hoekom hierdie dag op soveel plekke vandag soos ʼn Sabbat deurgebring word. Om die aanloop in die geskiedenis in oënskou te neem wat veroorsaak het dat ʼn groepie Voortrekkers hulself en ook hul nageslag verbind het met ʼn gelofte tot God, is vandag deel van die verbintenis vir ons as nageslag. Daarmee saam is onderneem om ʼn huis tot God se eer op te rig die derde verbintenis waartoe die groepie Voortrekkers hul verbind het toe hul in diepe afhanklikheid God se genade afgebid het en onderneem het om die eer van ʼn oorwinning aan God te gee.

In watter gees het hierdie geskiedenis homself afgespeel? Die gees van die Voortrekkers was nie om avontuur, moeilikheid of lewensgevaar te soek nie, maar na die reg en vryheid van nasionale selfbeskikking. Hierdie gees is in hul optrede, hul keusemaking en beginsels ervaar. Inderdaad was hulle verbondskinders van die Here en dit het gelei tot die keuse om ʼn gelofte aan God te maak. Die fondament vir elke keuse was  in ʼn diepe afhanklike en nederige geloof in God Drie-enig.

Jesus Christus het reeds aan die kruis die prys betaal namens God se kinders en sodoende die mag van Satan oorwin. Jesus Christus is dus die fondament wat die vaste grondslag bied waarop God sy volk so grondves en versterk dat die poorte van die doderyk hul nie sal oorweldig nie. Die erfgename van hierdie verbond openbaar as vrug hiervan ʼn vroom, opregte en godvresende lewenswandel.

Dit was vir die Trekkers ʼn gegewe om met ʼn vaste vertroue in God die veldslag tegemoet te gaan. Daardie gees wat die Voortrekkers openbaar het met die aflê van die gelofte was onder andere die volgende:

  • Dit het onteenseglik hul geloof in God Drie-enig bewys. Hul leier het 11 dae voor die slag verklaar: “’n Saak wat sonder God begin is, word verydel.” Die Trekkers het geweet dat die Here – die groot Helper in nood – beskik oor die vermoë om hulle te kan help.
  • Deur die gelofte het hulle hulself toevertrou aan die heilige en waaragtige God. Hulle het opgetrek en in gees en waarheid hul verootmoedig voor God. Ook om nie onregverdig teen weerlose vroue en kinders op te tree nie.
  • Hulle optrede getuig verder van geloofsekerheid vir die toekoms saam met die Here.
  • Hulle het vanuit hul diepe verhouding met God die vrymoedigheid gehad om tot God te gaan.
  • Deur die aflê van die gelofte het hulle ook daardeur hul eie swakheid en verleentheid in hierdie angsvolle tyd geopenbaar. Die gelofte is afgelê om die Here te eer.
  • Daar was ook die gees en verbintenis dat indien die Here hulle sal seën, die verskuldigde dank sal volg.
  • Regverdigheid en billikheid was ingebed in besluitneming – ook oor die verkryging van grond.

Die Trekkers was praktiese mense geskoei deur die harde omstandighede waarin hulle daagliks moes oorleef. Die keuse wat hulle gemaak het om die onbekende binneland in te trek openbaar ook ʼn gees van positiwiteit. Hulle was skeppend in hul dag tot dag omswerwinge. Daagliks is hulle gekonfronteer met vars en nuwe uitdagings waarvoor daar nie voorheen noodwendig oplossings was nie. Hierdie leerskool waardeur elke persoon gegaan het, het noodwendig van elk ʼn leier in eie reg gemaak wat vroeg in hul lewe reeds vaste besluite kon neem. Die Trekkers het deurentyd ʼn gees van vredeliewendheid geopenbaar, maar het vasgestaan indien beginsels in gedrang gekom het. ʼn Gees van vryheid was ʼn groot dryfveer om die Groot Trek aan te pak. Die onderdrukkende houding van ʼn Britse oorheerser het daardie gees laat ontvlam wat oorgesit is in daadkrag.

Dit was hierdie groepie mense wat die binneland in verhuis het – aangevuur deur die gees wat hul uniek gemaak het. ʼn Gees wat meegebring het dat ʼn ongerepte Afrika getem is met geloof, wilskrag en dryfkrag. ʼn Trotse geskiedenis is geskep.

Geskiedenis

Kom ons kyk kortliks na die gebeure wat 16 Desember 1838 vooraf gegaan het.

Sedert 1834 het verkennende trekke/ekspedisies a.g.v. die Engelse juk reeds die Kaap in die soeke na ’n eie Vaderland verlaat. Die werklike groot uittog het in 1836 plaasgevind. Om op ’n dag soos hierdie net na Bloedrivier te kyk, sal nie ’n volledige en realistiese weergawe van hierdie trotse deel van ons geskiedenis wees nie.

Die pad deur die binneland het gewis ook sy trotse oomblikke gehad en sal daar ook gekyk word na die kontak met die Matabeles.

Die slag van Vegkop is vooraf gegaan deur verskeie aanvalle op groepe Trekkers langs die Vaalrivier gedurende Augustus 1836. Verskeie Trekkers is dan ook in hierdie aanvalle gedood. Die Trekkers het weer teruggetrek, verder suid, tot by die Renosterrivier, bedoelende dit was vêr genoeg weg van die Matabeles. Hendrik Potgieter en Sarel Cilliers is gewaarsku die Matabeles is in aantog en kon betyds voorbereidings tref om die laer te versterk. Vegkop kan gewis gesien word as die Bloedrivier van die Vrystaat en moet ons daarteen waak om dié besonderse Slag se bydrae in die wordingsgeskiedenis van die Afrikaner nie sy volle erkenning te gee nie.

By Vegkop reeds het die vaste geloof van die Trekkers sterk na vore gekom. Voor die geveg het Sarel Cilliers ’n kort woord tot die vasgekeerdes gerig en hulle bemoedig uit die Woord. (Ps. 50:15)

By Vegkop is die uitvlug in sy eerste jaar gered. Die positiewe uitslag wat 35 weerbare manne, vrouens en kinders teen ongeveer 4000 Matabeles afgedwing het, was van deurslaggewende belang vir die groot emigrasie. In die tyd rondom Vegkop het daar ’n sterk gevoel by die grootste deel van die Trekkers ontstaan dat hul eie vrye land op die groen velde van Natal is.

Onder leiding van Piet Retief het die Trekkers dan ook geleidelik begin trek vanuit die binneland na Natal om daar te gaan onderhandel om hul eie grond van die Zoeloes aan te koop.

By die eerste besoek van Piet Retief aan Dingaan is as voorwaarde gestel dat die Trekkers eers beeste wat Sikonjella van Dingaan gesteel het, gaan terugneem en aan Dingaan besorg alvorens grond aan die Boere gegee sal word. Piet Retief, 66 Voortrekkers, 4 seuns en ongeveer 30 agterryers het op Saterdag 3 Februarie 1838 by Umgungundlovu aangekom met die teruggevinde vee. Op 4 Februarie is die traktaat deur Dingaan onderteken met getuies dat die grond tussen die Tugela in die noorde en die Umzimvuburivier in die suide aan hulle gegee sal word. Die Trekkers het uiteindelik hul eie wettig gekoopte grond gekry!

Die Maandag het die Trekkers ontspan en die Dinsdag is die Trekkers na Dingaan se stad ontbied voor hul sou vertrek. Verraad vind plaas en Piet Retief se hele geselskap word na buite die stad gesleep waar hulle gruwelik vermoor is deur Dingaan se impi’s op die koppie Kwa Matiwane. Die Zoeloe-leër vertrek onmiddellik na die niksvermoedende Trekkers wat wag op Piet Retief se terugkoms.

Op 17 Februarie word 281 Trekkers en 200 agterryers by die Blaauwkrantz en Boesmansrivier in die nag vermoor. Die Trekkers stuur ’n Strafkommando wat by Italeni in ’n hinderlaag beland en nog ’n Trekkerleier, Piet Uys, sterf met sy seun aan sy sy. Potgieter trek weg en die strawwe wintermaande volg. Nog ʼn aanval deur die Zoeloes gedurende Augustus by Veglaer is afgeweer, maar al die vee is weggevoer. Maritz word baie siek en sterf in September. Die Trekkers se moraal is baie laag.

Andries Pretorius was op daardie stadium ver gevorderd met sy voorbereidings om self te trek en kon dus spoedig vertrek. Op 22 November kom hy by die hooflaer aan en word verkies as Hoofkmdt.  Die lesse geleer uit hul ervarings by Vegkop, Bloukrans, Italeni en Veglaer het die waarde van ’n laer beklemtoon. Hy laat nie op hom wag nie en tref vinnig en deeglik die nodige maatreëls om teen Dingaan uit te trek. Op 27 November vertrek die vergeldingskommando met 470 man, 64 waens, 500 perde en minstens 700 osse.

Die gedagte van ’n Gelofte aan God ontstaan en op 9 Desember word die Gelofte dan ook vir die eerste keer by Wasbank afgelê deur Sarel Cilliers. Dit word elke aand herhaal tot op 15 Desember waar dit die aand voor die slag oplaas bevestig is.

Die mis, die donkerte, die moontlikheid van reën, die vrees van nat kruit, die onbekende getal Zoeloes wat iewers lê en wag en die wete dat indien hulle nie hier slaag nie die pad ooplê na weerlose vrouens en kinders, moes dit ’n onvergeetlike nag gemaak het. Vir dit wat die Trekkers in geglo het was die opoffering wat hier van hulle gevra is, haas te veel vir vlees en bloed. Die geloof wat hierdie handjievol Trekkers openbaar, is vir elkeen van ons ’n voorbeeld.

Die slag met sy aanval op aanval deur die jong Swartskilde, die ervare Witskilde wat sit en wag, Andries Pretorius se takties korrekte optrede met kanonvuur om die Witskilde te betrek, die perderuiters wat die Zoeloemag verdeel en die uitslag met slegs drie Trekkers gewond en tussen 3000 – 6000 Zoeloes dood, is aan ons bekend.

Besef ons regtig wat die menslike vermoë was waarmee die handjievol Trekkers hulself in die Slag van Bloedrivier begewe het. Weet u hoe broos en tengerig ’n kakebeenwa was, en hoe dun en yl ’n enkel ry van hulle tussen 470 vasgekeerde mensies aan die binnekant daarvan en duisende dapper Zoeloe-krygers daar rondom heen moes wees?

Neem verder die vuurtempo van die voorlaaiergewere in ag nl. hoogstens 2 – 3 skote per minuut, die spoed waarmee die Zoeloevegters doodsveragtend die laaste 40 meter nl. die afstand waarop daar geskiet is, kon aflê – seer sekerlik onder die 10 sekondes. Dan word die logiese vraag gevra: “Hoe is dit moontlik dat daar nie na die eerste sarsies oor die walaer gespoel is alvorens daar weer na behore gelaai is nie.” Dit is so dat die trekkers elk meer as een geweer gehad het maar steeds word stormloop na stormloop afgeslaan, onverbiddelik, meedoënloos, weer en weer en weer… Daar is geen menslike verklaring daarvoor nie – behalwe dit wat die Zoeloes in hul taal gesê het, naamlik “uNkulunkulu” dit wil sê “die Groot-groot Een”.

 Besef ons dat die grootvee, ongeveer 1200, in die walaer vasgekeer, met die geknal van gewere, lug gevul met kruitreuk en rookdamp, die geskreeu van Zoeloes, werpassegaaie heel moontlik tussen die vee ingewerp en die reuk van bloed teen enige logika in kalm gebly het. Het u al gehoor en gesien hoe ’n paar beeste in rustige omstandighede op ’n plaaswerf te kere gaan as hul beesbloed ruik?

Die walaer met sy versterking van veghekke as skans met ’n soliede geloofsbegronding gevestig daarbinne, het as hulpmiddel vir die Trekkers ’n bastion daargestel vanwaar hulle kon optree teen die veglustige Zoeloes. ’n Paar kanonne se addisionele vuurkrag en ’n perdekommando wat vinnig vanuit die walaer buite die laer kon optree, het ’n parate gevegsmag daargestel. Elkeen in die walaer het ’n rol en taak gehad om uit te voer. Deeglike voorbereiding gegewe hul middele en omstandighede was gedoen. Sterk leierskap en dissipline was ’n uitstaande kenmerk.

Volgens Jan Bantjes, Andries Pretorius se sekretaris, het die Zoeloemag uit 36 regimente bestaan van tussen 900 – 1000 per regiment wat beteken dat meer as 30 000 Zoeloes deel van die slag was. Ander skattings rondom 15 000 word ook genoem – om die ware getal weer te gee, is onmoontlik. Die Zoeloes was egter ’n gevoelige knou toegedien. Na ure-lange opvolg, het almal na die laer teruggekeer en ’n dankdiens is gehou.

’n Wonderwerk het plaasgevind! God hét geantwoord op die Gelofte!

Die volgende dag volg die Wenkommando sy sukses op en trek reguit na Umgungundlovu en vind dat Dingaan weggevlug het nadat hy sy statte afgebrand het. Op die koppie Kwa Matiwane word die beendere van Piet Retief en sy makkers gevind. Daarmee saam die traktaat nog ongeskonde in sy bladsak as bewys dat die grond wettig gekoop is.

Die Voortrekkers het gewis nie net hulleself ingereken in die nakoming van die plegtige gelofte wat hulle teenoor God gemaak het nie, hul nageslag was gewis ook ingereken. As ons nog ’n godsdienstige volk is, nog liefde en respek vir ons geskiedenis het, en indien ons nog vir dieselfde groot ideale leef as dié waarvoor die Voortrekkers geleef het, sal ons as Afrikaners vanself die Gelofte wat op 9 Desember 1838 vir die eerste keer afgelê is, as ons eie gelofte aanvaar. Daar is nie ’n verpligting wat van buite op ’n Afrikaner geplaas word om die gelofte na te kom nie, maar dit kom van binne. Die inhoud wat elke individu aan die Gelofte gee gaan van homself afhang en as dit u erns is – dan sal u dit mos vir u kinders van kleintyd af leer sodat dit ook vir hulle hul erns sal wees.

Twee wêrelde het bymekaar gekom by Bloedrivier. Reg deur die geskiedenis was dit telkens die geval en is dit steeds so. Hierdie stryd was toe en is vandag steeds so en sal dit in die toekoms ook so wees. ʼn Bepaalde lewens- en wêreldbeskouing was ingebed tussen die onderskeie groeperinge deur ʼn bepaalde verskil in geloofsbeskouing. Die Christelike geloof bring teweeg dat daar rekenskap gegee moet word teenoor jou Skepper. Daar moet geskep en geleef word ingevolge die kultuuropdrag soos vervat in die Woord. As Christen beklee ons elkeen ʼn besonderse amp naamlik die amp van gelowige. Dit is inderdaad ons hoogste roeping wat verantwoordelikhede van ons eis. Die uitleef van hierdie roeping bring mee dat ons ’n dankbaarheidslewe tot eer van God moet lei. Is Jesus Christus nog die middelpunt van ons besluitneming of het ons in die gees van humanisme die mens in die middelpunt begin sit? Vanuit Afrika met ʼn inbinding met hul voorvaders bring dit ’n totaal ander beskouing na vore. Hierdie twee wêrelde kan nie versoen nie.

Die geskiedenis en sy volkshelde vra vandag aan elkeen wat is ons bydrae om die Bloedrivier van vandag die hoof te bied. Op haas elke terrein van ons volkshuishouding is daar op een of ander wyse ʼn bedreiging. Die fisiese aanslag op veral ons senior burgers sowel as ons plaasboere neem onaanvaarbare afmetings aan. Die wreedheid in hierdie aanvalle grens aan barbarisme. ʼn Beskaafde en opgevoede mens sal nie eers teenoor ʼn ondier so optree nie. Die aanslag in die onderwys is ʼn subtiele afkraking van waardesisteme op ʼn wyse dat dit te laat agtergekom gaan word. Daar kan inderdaad op elke terrein uitgebrei word oor negatiewe aspekte wat onaanvaarbaar is.

’n Transformasie agenda word op ons afgedwing. Die ANC – met sy bondgenote in die drie-party alliansie – strewe na gesentraliseerde sosialisme en kommunisme. Dit doen hulle deur sogenaamd te transformeer. Daarbinne verpak hulle dinge soos SEB, gelyke indiensneming, leuens oor die geskiedenis, grondhervorming, onteiening sonder vergoeding en seker die gevaarlikste: die kurrikulum in die skole waar ons kinders blatant skaam gemaak word vir hul erfenis en begronding. Ons laat toe dat hierdie onaanvaarbare dinge deel van ons eie mondering word. Van ons eie mense het al teenoor my verklaar, maar ons moet “transformeer”, dit sonder dat so persoon eers besef of weet wat dit alles behels.

Dr. Blade Nzimande verklaar by geleentheid voor SADOU (swart onderwys vakbond) die kurrikulum is ontwerp om vir die jeug sosialisme te leer en hulle dit moet gebruik. Ons as Christen-ouers neem verlief daarmee en laat toe dat ons kinders ideologies subtiel van ons gesteel word.

Die ANC is voluit besig om sy Nasionaal Demokratiese Rewolusie (NDR) te implementeer. Geleidelik maar sonder ophou is hy besig om dit te doen met die doel om die totale samelewingsorde te herrangskik sodat alles in sy beleid sal geskied. Waar in die wêreld voer ʼn regering ʼn rewolusie teen homself uit? Ons kultuur, ons waardes ons lewens- en wêreldbeskouing…alles moet verander word om hom te pas. In sy “Strategy and Tactics” dokument, in die praktyk met wetgewing en selfs met sy uitsprake wys en sê die ANC dat u op die pad is om sosialisme en kommunisme hier te vestig. Die ANC het nie die kundigheid om sy eie ideologie te implementeer nie en verwag nou van ons om onder die begrip transformasie dinge soos SEB en grondhervorming te maak werk wat uiteindelik ons eie kele gaan afsny. Gaan ons dit maar net aanvaar?!

Die Trekkers se omstandighede was uit menslike vermoëns geoordeel seer sekerlik baie slegter as dit wat ons vandag beleef. Is die antwoord van toe nog vandag ons antwoord? Die gees van die Groot Trek en die toepassing daarvan in die praktyk het vir die Trekkers uitkoms gegee. Watter gees openbaar ons vandag in ons handel en wandel? Het ons vandag nog die geestelike verdieping en begronding dat ons ’n Gelofte kan en wil aflê? Wat is die boodskap wat ons aan ons kinders oordra? Ons moet onsself dwing om positief te wees in ons soeke na antwoorde vir die toekoms.

Dit bring ons uit by hoe lyk ons walaer vandag waarmee ons die bedreigings van die dag die hoof moet bied. Watter lesse kan ons leer uit die oorwinning van Bloedrivier en die walaer wat daar ’n verskil gemaak het?

Wat verpak ons vandag in ons simboliese walaer en wat behoort ons daarin te verpak?

Dit is hartseer dat ons geestelik vervlak het en dat die rug so maklik gedraai word op die Woord van God. Ons roem daarop dat ons Christene is, maar daagliks skeur ons by implikasie bladsye uit ons Bybel aangesien ons doelbewus nie dit wat vir ons as riglyn in die Woord gegee word, nakom nie. Die wonderlike is dat Jesus met sy kruisdood vir elkeen wat sy sondes bely die weg gebaan het vir vergifnis en dat ons sodoende ons verskeurde Bybels kan herstel.

Hoe dik is ons elkeen se Bybel nog?

Die wyse hoe ons met mekaar omgaan in gesprekke en ook op die sosiale netwerke dwing mens tot stilstand. Is dit die waardes wat ons graag vir ons kinders wil nalaat? Ons walaer is deurspek met afbrekende dinge wat ’n eens trotse volk nie tot eer strek nie. Ons kan voortstu om ons walaer te besoedel of ons kan die keuse maak om die regte dinge in ons walaer in te bring.

Wat hoort in ons walaer?

  • Die krag van gebed gebore uit ons geloofsbeskouing om hulp en raad en wysheid af te pleit by God Drie-enig is die enigste blywende bron van krag in hierdie tyd.  Ken ons dit nog?
  • Die intellektuele kapitaal waaroor ons beskik help in die proses van keusemaking.  Sorg ons nog dat ons volledig ingelig is oor alle relevante sake om sodoende ’n ingeligte besluit te kan neem.
  • Die  werkywer van ʼn volk wat geskep het deur die eeue – om sisteme te maak werk en te verbeter. Bou ons steeds daaraan as ʼn waardesisteem wat ons onderskei van ander volke. Dink maar net aan kernkrag tegnologie waar agt mense reggekry het om ʼn atoombom te bou waar ander lande gereken het ons het te min ingenieurs in die werksomgewing om dit te kan vermag.
  • Die kundigheidsvlakke in uiteenlopende werkterreine. Die prys van affirmative action het nou te duur geraak vir ons land. Die beheptheid van ʼn ANC om sogenaamd te bemagtig, het kundigheid vervang met iemand van kleur en kundigheid was glad nie deel van die kriteria vir aanstelling nie. Al hoe meer sisteme se wiele kom af. Amper elke terrein het praktiese voorbeelde – dink maar net aan ’n Denel, SAL, Eskom, water besoedeling, plaaslike regerings en vele ander. Instellings eens die fondament van effektiwiteit, is nou die oorsaak van ’n falende land. Ons moet aanhou om onsself in te presteer en die nodige verskille te maak. Woeker ons met ons talente en maak ons die beste van elke situasie wat ons aanpak. Niemand kan jou opleiding en kundigheid van jou wegneem nie.
  • Die geleentheid om ons kinders te veranker in waardes wat saakmaak. Waardes verkry uit die Woord van God – wat doen ons ouers vandag in die verband? Met watter ankers word ons kinders die wêreld ingestuur. Elke ouer moet vandag vir hom of haarself die vraag afvra wat doen ons in die verband.
  • ’n Uitbouing van ’n moedertaal wat seker die soetste klanke na vore kan bring indien dit suiwer gebesig word.

Deel ons nog ʼn gemeenskaplike visie vir die toekoms. ʼn Visie wat juis daardie aanslag met sy NDR as die basis die hoof kan bied. Om deel te wees van ʼn reënboognasie wie se waardes altyd bepaal word deur die meerderheid is uiters kortsigtig en grens aan volksmoord. Dit is mense wat volhard op daardie pad wat eintlik die skeibrekers en dwarstrekkers is.

Ons volk staan voor seker een van die grootste keuses in sy geskiedenis. Wat is elkeen se keuse vir die pad vorentoe?

As die waardes wat deur die ANC op ons afdwing u keuse is, doen dit met die wete dat u die gevolge daarvan sal moet dra. Indien u waardes vir u steeds belangrik is soos u opgegroei het en soos daarvoor by Bloedrivier opgestaan was, lê daar ʼn pad van groot uitdagings vir u voor. ʼn Pad waar u eendag aan u kleinkinders ook met trots sal kan vertel wat u bydrae was in die uitbouing van u volk se waardes. Dan moet u nou uitgesproke deel word van die groepering wat die Afrikanervolk se ideale steeds nastreef en positief wil uitbou.

Om daardie toekoms te ontgin, is dit gewis nodig om die verlede te ontleed en daaruit te leer. Wat is ons beskouing van die verlede? Dit is hartseer dat sommige mense ʼn beskouing ontwikkel het van skaam wees vir ons geskiedenis. Word dit nie nou in skole aan ons kinders so oorgedra nie? Elke deel van ons geskiedenis het bygedra in die uitbou en ontwikkeling van ons volk se unieke karakter. Nooit mag ons ons eie geskiedenis verdoem nie. Ons ouers het vandag ʼn groter verantwoordelikheid as ooit in die geskiedenis om seker te maak dat ons kinders steeds veranker sal bly as Afrikaner. Hoe baie moet ons hoor dat dit apartheid en kolonialisme se skuld is dat swartmense arm is. Wat het dan verkeerd gegaan in die lande in Afrika waar daar nooit kolonialisme of apartheid was nie? Hierdie verwronge gedagtegang word baie subtiel aan ons kinders oorgedra in die skole. Ons moet waak dat ons kinders nie van ons gesteel word nie.

Die meer senior lede hier teenwoordig het die voorreg gehad om die begrip Christelik–Nasionaal as saambindende sement in volksverband te kon hê waar daar tussen huisgesin, skool en kerk ’n gemeenskaplike fondament was. Wat bind Suid-Afrika vandag? Is dit iets om op trots te wees? Het dit nie maar humanisme en liberalisme geword nie? Die regte sement om te bind begin by elkeen self. Is dit nie tyd om terug te keer na daardie waardes waarop ’n nageslag trots kan wees en waar die eer van God bo alles gestel word nie?

Vandag is die Afrikaner in ʼn sekere sin sy eie grootste vyand. Die persoon wie se siening die naaste aan myne is, raak baie vinnig my grootste vyand net omdat dit nie presies soos myne is nie! Die vraag kan tereg gevra word of elkeen vandag kan waarborg dat sy of haar siening waarborge sal gee vir die toekoms van ons volk. Mens kan later so “reg” wees dat mens alleen reg is.

Daar behoort in dié dae met groot verdraagsaamheid horisontaal in gesprek getree word. Die verskillende gedagtegange ontledend bespreek en gesamentlik oor tyd onsself toelaat om ʼn toekoms-drukgang te skep waarmee die oorgrote gedeelte van ons volk sou saamstem. Hierdie proses moet met groot verantwoordelikheid geskied met die wete dat hier buite sekere werklikhede is wat nie geïgnoreer kan word nie. Soos om mense wat nie saamstem nie te beskuldig dat hulle verraaiers van die volk is, sonder om eers met hul in gesprek te tree en werklik te hoor wat hulle siening is. Elkeen moet ernstig besin wat hul benadering in die verband is.

Deurlopend word ervaar dat daar uitgereik word na ons volk se kundigheid, veral in die landbou-omgewing om in ander lande te gaan help om daar ’n positiewe verskil te maak. Wêreldwyd word die Afrikaner hoog geag.

Ek sluit af deur vandag vir myself en elke ander Afrikaner te vra, waar is die Afrikaners waaroor ander lande kan liries raak wat graag by hulle wil kom leer omdat hulle integriteit, hul geloof en hul hardwerkendheid in hul beskouing uitstaan as iets merkwaardig. Daardie Afrikaners wat hier op eie bodem kan terugkyk na ʼn trotse geskiedenis van skep en bou, altyd vas gegrond in suiwer waardes. Dit is daardie Afrikaners wat nou weer moet opstaan vir die regte redes en op die regte manier om ʼn trotse geskiedenis te kan bou. Dit is inderdaad ʼn keuse wat gemaak moet word om jou roeping uit te leef.

Dit laat my dink aan die woorde van Victor Hugo (Franse skrywer en politikus) reeds in 1862 waar hy gesê het:

“Daar is nie so iets soos ’n klein nasie nie. Die grootheid van ’n volk word net so min bepaal deur sy getalle as wat die grootheid van ’n enkeling deur sy lengte bepaal word. Hy wat ’n groot voorbeeld stel, is groot.”

Daardie voorbeeld kan net groot wees indien ons God deel maak van ons walaer – dit is die enigste fondament waarop ons die toekoms kan bou. Laat ons gegrond en hardwerkend vir die wêreld wys wat is die kwaliteite waaruit ons walaer saamgestel is. Ons kan dit net regkry indien ons daagliks bid vir wysheid en krag – dan sal ons oorwin. Dan sal ons nageslag ook oor ons walaer kan liries raak, want ons het beginselvas gestaan by die waardes wat goed is, wat ons by ons voorouers kon leer.

Die pleidooi is dat ons nie in negatiwiteit vervalle raak nie. Met die regte samestelling van ons walaer is ons reeds oorwinnaars deur Jesus Christus wat vir ons aan die kruis gesterf het. Laat ons met blymoedigheid daagliks ons kultuuropdrag gaan uitvoer.

Dit laat my dink aan wat ons kan leer uit die welbekende Bybel-verhaal van Dawid en Goliat.

Dawid het aangekom by ’n laer gevul met bang soldate, maar hy was bereid om Goliat aan te vat. Koning Saul se harnas was te swaar… Ek glo wat Dawid wel aangetrek het, was die wapenrusting van God.

 Met sy talent om slingervel te hanteer het hy die klippies opgetel om uitvoering te gee aan die talente wat God hom gegee het. Soos Dawid het die mense by Bloedrivier alles aan God opgedra.

Ek vra vandag of nog ons leef tot eer van God? Tel ons as Afrikaners nog ons klippies om die regte redes op? Gee ons nog uiting aan die talent wat God wat ons gegee het?

Kategorie:

Deel dit:

Windscreen Masters

Enige lid/vriend wat deur Windscreen Master hul ruit laat vervang, kan dit op die plek van sy keuse laat doen. Windscreen Master hanteer ook die skakeling met die lid/vriend se makelaar/versekeraar asook die registrasie van die eis indien van toepassing.

Verco Energy

Verco Energy lewer goedkoper diesel aan TLU SA affiliasies/lede/vriende in sekere afleweringsgebiede.

Timac Agro

Spesiale aanbiedinge om kunsmis teen beter pryse aan te koop, slegs vir TLU SA-lede.

Relevante artikels

NBM

TLU SA se ooreenkoms met NBM bepbaal dat TLU SA affilliasies/lede/vriende afslag ontvang op verskeie versekeringsprodukte

Hendrik de Swardt

082 852 8039

Philippie de Beer

083 230 4583

Relevante artikels

LWO

Die LWO ondersteun boere as werkgewers in alle aspekte rakende arbeidsregwetgewing.

MarketVest

MarketVest maak gebruik van gevestigde, gekontrateerde groenkaart tegniese kontrakteurs regoor die land wat vinnig hulp kan verleen met aanbevelings en installasies. Vir elke suksesvolle afgehandelde installasie wat deur TLU SA na MarketVest verwys word, ontvang TLU SA ʼn verwysingfooi.

Firearms Guardian

Firearms Guardian is ’n unieke korttermynversekeringspakket vir vuurwapeneienaars. Dit bied dekking teen regskostes en aanspreeklikheidseise, wat spruit uit selfverdediging, skiet-ongelukke, strafregterlike vervolging, jagtogte wat skeefloop, sportskiet-ongelukke, en vele meer.

Finco Finance

Finco Finance ondersteun TLU SA-lede met finansiering by handelsbanke.

Pitkos

Die Pitkos is TLU SA se nuusbrief slegs vir lede. Hierin gee ons vir lede inligting oor die aksies waarby ons betrokke is, standpunte wat ons inneem, spesiale aanbiedinge wat vir lede beding is, opkomende geleenthede en waardevolle inligting soos aankondigings in die Staatskoerant wat op landbou betrekking het.