Weeklikse nuusoorsig, 24 Oktober 2019 Maandag | 28 Oktober | 2019
  1. Landbou – Nuus uit Iowa

 

“Ek glo Iowa is op die voorpunt om te definieer hoe landbou in die VSA daaruit kan sien,” sê prof. Lisa Schutte Moore, ’n natuurwetenskaplike verbonde aan die Staatsuniversiteit van Iowa. Sy kyk veral hoe ekonomiese en omgewingsfaktore ’n rol speel in ekstensiewe mono-kultuurboerderye wat kenmerkend van Iowa is, en sy glo gesprekke oor die onderwerp moet landwyd gevoer word.

Iowa produseer ’n wye verskeidenheid produkte soos mielies, soja, eiers, biodiesel en ander, maar omdat die staat net 3,2 miljoen inwoners het, word die meeste uitgevoer.

Iowa se boere is ook akuut bewus van die uitdagings wat moderne boerdery bied, soos de verarming van grond, waterbesoedeling, vloede, koolstof-verliese en ’n gebrek aan habidat vir inheemse spesies.

Schutte Moore is al 13 jaar lank betrokke by die STRIPS-projek. Dit behels dat stroke natuurlike Prairiegras tussen die mielie- en soja-lande geplant word. Prairiegras word as waardevolle bate vir waterbewaring wat ook help teen erosie beskou, en verskaf voeding aan natuurlewe, wat ook diere insluit wat met bestuiwing help. Ook voëls en insekte leef van hierdie stroke. Behalwe dat hulle ook met bestuiwing help, vreet hulle onkruide en ander peste. Die stroke word gewoonlik op die mins-vrugbare gedeeltes van die lande gemaak, en ook nie op meer as tien persent van die totale oppervlak nie, maar maak die lande vrugbaarder, en bespaar op kunsmis en pesdoders.

U kan gerus die volledige artikel lees en u menings deurgee aan genl.maj Chris van Zyl by dienste@tlu.co.za sodat gesprekvoering kan begin.

 

Lees volledige artikel in The Conversation hier: shorturl.at/glC24

 

  1. Boks-vir-‘n-boervrou

Wellington VLV wil hoop bring vir boervroue wat gebuk gaan onder die droogte voor Kersfees met die wonderlike projek- Boks-vir-‘n-Boervrou!

Dit gaan daaroor dat ander mense ’n skoenboks of wynboks vul met items wat dan aan die boervroue gestuur gaan word wat deur ‘n droogte geraak word.

Al die bokse moet in koerantpapier toegedraai word met ‘n mooi lint daarom gebind en geen name moet bygesit word nie. Jy kan meer as een boks skenk of saam met iemand ‘n boks opmaak.

Lees meer https://www.proagri.co.za/boks-vir-n-boervrou-in-droogtegebiede/

 

  1. Kankernavorsers vorder met “wondermiddel”

Dink u in – kankerbehandeling sonder chemoterapie, bestraling of operasies – net ’n asperientipe pilletjie. Dié doepa waarmee verskeie soorte kanker uitgeklop kan word deur die liggaam se eie immuniteit te verhoog nader nou ’n werklikheid, aldus prof. Khaled Barakat, ’n biofisikus van die Universiteit van Alberta.

Die doel is om enige kankerverwante probleem met die middel te kan uitskakel. Die navorsing word met die hulp van ’n superrekenaar gedoen, en die vind van ’n piepklein molekule wat presies dit kan doen, het reeds tot ’n artikel in die vaktydskrif Scientic Report gelei.

Lees volledige artikel by https://medicalxpress.com/news/2019-09-closer-magic-cancer-treatment.html

Lees vakartikel by https://medicalxpress.com/news/2018-07-all-star-team-molecules-key-cancer.html

 

  1. Weet kiesers waarvoor hulle stem?

Dis nie net in Suid-Afrika waar baie mense wonder of die stemgeregtigdes ’n benul het waarvoor hulle stem as hulle hul kruisies gaan trek nie. ’n Nuwe Rasmussenpeiling dui daarop dat 67% van die Amerikaners meen dat die meeste kiesers nie goed genoeg ingelig wanneer hulle gaan stem nie. Net 21 % meen die meeste kiesers is ingelig.

Die meer volledige uitslag kan hier gelees word: http://www.rasmussenreports.com/public_content/politics/general_politics/october_2019/67_say_most_are_not_informed_voters?utm_campaign=RR10232019DN&utm_source=criticalimpact&utm_medium=email

 

  1. Nuuskommentaar: Afrikaner en ander minderhede – gryp die geleenthede nou aan terwyl dit daar is

Opsomming

Uit onder meer mediaterugvoer en braaivleispraatjies is dit duidelik dat baie Afrikaners, as deelgenote van die land mismoedig oor die toekoms is. Maar die onlangse toekomsberaad van Solidariteit het groot optimisme opgelewer – Afrikaners wat Horatius se woorde meer as 2 000 jaar gelede, carpe diem, aangeneem het en die geleenthede wat die oomblik bied aangegryp het.

Die bekende Romeinse digter,  Quintus Horatius Flaccus (65 vC – 8 vC), het die bekende term, carpe diem, gebruik. Hoewel die term toe nog nie die begrip van Christelik kon inhou nie, is dit vandag baie bekend in Christelike uitlegte en gebruike. Dit is byvoorbeeld die afgelope naweek deur dr. Izak Burger, vorige hoof van die AGS, gebruik toe hy die jaarlikse liefdesmaal wat die bekende Bloemfonteinse internis, dr. Frieda Pienaar en haar praktyk vir haar pasiënte aanbied, gebruik toe hy die groot groep mense toegespreek het.

Nou hoe beland ’n gerespekteerde  afgetrede kerkleier en leraar se opelugboodskap in ’n nuuskommentator wat dikwels as politieke kommentator optree, se rubriek?

Carpe diem word dikwels in Engels vertaal as “seize the moment”. In Afrikaans word dit waarskynlik ten beste as “gryp die oomblik aan” vertaal, en die konteks is dat daar dalk nie ’n môre sal wees nie. Baie van dr. Frieda se pasiënte is kankerlyers vir wie môre nie gewaarborg is nie. Maar eintlik handel dit net oor die bewussyn daarvan, want niemand se môre is gewaarborg nie.

Nou wat van die Afrikaner en ander minderhede? Hoekom lui die opskrif dat  juis die Afrikaner en ander minderhede nou die geleenthede moet aangryp?

Lees gerus die res van Maroela se nuuskommentaar by https://maroelamedia.co.za/nuus/nuuskommentaar/nuuskommentaar-afrikaner-en-ander-minderheidsgroepe-gryp-die-geleenthede-nou-aan-terwyl-dit-daar-is/

Al Maroela se daaglikse nuuskommentare (Maandae tot Vrydae) kan gelees word by https://maroelamedia.co.za/kategorie/nuus/nuuskommentaar/

 

  1. Argeoloë vind breë pad in Jerusalem wat Pilatus gebou het, en wat lank verlore was.

’n Agt meter breë, en 600 meter lang straat in Jerusalem wat van die Siloam-waterbron tot teen die trappe teen die Tempelberg strek, is geïdentifiseer as die pad wat Ponius Pilatus in Jerusalem laat bou het. Die wydte van die straat, die buitengewone gehalte bouwerk en die simboliek van waar die straat en tot waar dit gebou is, laat daar ook nou vrae ontwikkel oor of Pilatus werklik so ‘n wrede, en godsdienstig-apatiese mens was as wat buite-Bybelse bronne van hom skets. ’n Persoon wat so ’n straat laat bou wat duidelik bedoel was om dit vir pelgrims maklik en gerieflik te maak om op die Tempelberg te kan gaan aanbid, kon kwalik korrup en ‘n wreedaard wees soos brone aandui. By Siloam kon hulle byvoorbeeld na hul reis bad, en drinkwater kry.

Aan die begin van die ondersoek het argeoloë met argeologiese versigtigheid deur die straat gegrawe, tot onder die onderste laag. Dit dateer ongeveer tot 30 nC. Daar is verskeie muntstukke aangetref wat met Pontius se dienstyd ooreenstem.

Om die pad te bou moes tot 10 000 ton kalksteen uit ‘n gruisgroef gehaal gewees het.

https://www.livescience.com/pontius-pilate-street-jerusalem-found.html

The ancient street built by Pontius Pilate ends near these pilgrim stairs at the southern end of the western wall.

 

  1. Stof kan kopseer word vir maanverkenning

Vele struikelblokke en gevare word voorsien vir mense wat die maan besoek, maar een van die grootste probleme kan maanstof wees.

Reeds met die eerste bemande maanlanding was dit duidelik dat die maanstof ongewoon is. Behalwe dat dit die ruimtepakke gou oordek het, en die landingskapsule in so ‘n mate ingedring het dat die bemannings wat regstreeks daarmee in aanraking gekom het dit kon voel, het dit ‘n spesifieke reuk. Volgens een ruimtereisiger ruik dit soos ou as, maar met ‘n paar druppels water daaroor gestrooi. Een van Apollo 17 se bemanningslede is baie gou deur hooikoors oorval.

’n Groter probleem is dat een van die verskeie soorte oksides waaruit die maanstof saamgestel is, waaronder die hoogs toksiese silikonokside. Boonp maak dié okside die helfte van die maanstof uit. Die gesondheidsgevare van maanstof moet nog verder ondersoek word, veral on vas te stel wat die invloed daarvan met geringe swaartekrag is.

Die ondersoeke sal darem ook op moeder aarde van waarde wees, soos om na die ontwikkeling van medisynes te kyk, asook die toediening daarvan, en nuwe behandelingsmetodes kan ook ontwikkel word.

https://www.space.com/moon-dust-problem-lunar-exploration.html

 

  1. Insight se seismometer registreer vreemde Marsbewings

Die seismometer wat die Insight-tuig op Mars neergelaat het, se lesings het nie soveel lig op die samestelling van die rooi planeet se binnekant gewerp soos gehoop nie, maar eerder onthul dat Mars ’n unieke samestelling het. Sedert die tuig in November 2018 op Mars geland het, het die seismometer reeds meer as ‘n 100 seismiese gebeure geregistreer. Minstens 21 hiervan was werklike marsbewings. Die data verskil egter van dit wat op aarde en die maan gemeet word. Die bewings duur byvoorbeeld baie kort op Mars, teenoor heelwat langer op aarde en die maan.

Dit skep onsekerhede oor die samestelling van Mars onder die oppervlak, terwyl dit een van Insight se hoofoogmerke was om meer oor Mars tot ver onder die oppervlak te wete te kom.

http://www.astronomy.com/news/2019/10/quakes-reveal-mars-has-a-unique-interior

 

  1. Oom Herrie se kerrie: Boeretrappers

Nee, oom Herrie het dit nie vandag oor mense wat so graag op die Boere en boere trap nie. Nee, dit handel oor daai plaasgebreide voete en die skoeisel wat ’n mens nodig het om dit vir skool en kerk bedek te kry. Dié verhaal speel hom af toe oom Herrie sewe was, maar sub B misgeloop het omdat hy daai jaar saam met sy ouers in die VSA was.

Daai jaar kan ek net as ’n kind se wonderjaar beskryf. Eintlik al toe ons daar in Tafelbaai op die skip geklim het. Vooraf was ek oor die skeepvaart nogal bekommerd, want as binnelander het ek ’n soort onbedekte roeiboot in gedagte gehad. Om die waarheid te sê, ek het gedink ons is net op nog ‘n soort kaai of iets toe ons die Italiaanse posboot met ’n loopbrug bereik het. Maar daai bootvaart was ’n droom. Van swem in die swembad tot die seekoning wat oor die ewenaar kom besoek aflê het, en die vlieënde visse wat somer ver kon vlieg…

Pa het vir ’n jaar in die VSA gaan navorsing doen, en die gesin is saam vir die wonderwêreld van sneeu, sneeumanne, sleery soos ons tuis seepkiskar gery het en vele meer.

Maar daar was een teenspoed. Skoene. Ek het my skoolskoene ontgroei (want in Stellenbosch sonder dubbeltjies was eintlik net skoolskoene nodig, want skoene skool toe dra was verpligtend, en kerk toe dra uiters wenslik. Kort na ons aankoms is ek en ma winkels toe vir operasie skoenkoop.

Dit ontaard in ’n nagmerrie. Winkel in, winkel uit, maar niks pas my breë Boeretrappers nie. Als is sulke smal skoentjies. Tuis moes ek altyd die breër halwe nommers dra, en selfs dan was daar omtrent plek vir ’n rugbyveld voor die groottoon.

’n Alternatief was om al langer skoene te probeer, tot dit wyd genoeg sou wees. Ek kan nie onthou watter nommer uiteindelik wyd genoeg was om die voete in te kry nie, maar ek onthou hulle het soos twee knoffelbrode aan my voete gesit. Of soos daai latere super-olietenkskepe met die boikotte en goed. En toe het ek gewonder of daai skoene ook, soos die super-tenkskepe, die ronding van die aarde moes inwerk.

Maar uiteindelik kom daar soort van uitkoms in ’n paar donkergroen fluweelskoene. Te mooi, en laat mens nog aan die Veltskoene tuis dink. Net Baie mooier. Effe aan die groot kant, en taamlik aan die lang kant, maar daai skoene moes ’n jaar hou want vir nog so ’n ekskursie het nie ek of ma kans gesien nie.

Maar ons het mos in die middel van die winter daar aangekom, en toe moes daar nog sneeuskoene aangeskaf word – sulke ooprits stewels waar mens se voete met skoen en al moes in. Gelukkig het my brein oor daai missie uitgesny om my verdere trauma te spaar, en kan ek niks daarvan onthou nie.

Maar hier teen die einde van die jaar begin my voete kennis gee dat die spulletjie nou erg begin druk. Maar ek moet nog ‘n maand of twee tot ons terug in Suid-Afrika is uithou.

Veral na ons skip anderkant die Suezkanaal in die Rooi See uitgekom het en ons die ewenaar begin nader het, was dit warm genoeg dat ek skoene net in noodgevalle hoef te gedra het. En toe word my nuwe skoolskoene sonder moeilikheid gekoop, rugbyveld voor die groottoon en al. So ’n week later wil ek weer ’n slag deftig in daai Amerikaanse skoene lyk, maar my voete is seker twee duim langer as die skoene, en nugter weet hoeveel wyer. My voete moes omtrent na hul gereëlde samepersing in die skoentjies, laat skiet gee het.

Deeskedae dra ek so om en by nr. 10.s, en as hulle skoene wyer sou maak, sou hulle seker in ‘n agt ongepas het.

Kort na ouboet gebore is, het ons egter gesien hier kom ‘n ding. Op skool het hy, of liewer sy voete, elke jaar met twee nommers gegroei. Sommer nog vlak in die laerskool, as ons ‘n nuwe paar moes gaan aanskaf, en ons noem die nommer wat ons wil laat pas, vra die verkoopsman: “Kindernommers?”

Kindernommers se voete. Dis al van die begin af grootmensnommers. Toe hy laerskool klaarmaak, is dit nr. 13 skoene wat aan sy voete pryk, of nr 12 –tekkies.

Op hoërskool benadruk die hoof die kinders moet skoolskoene dra. Ek wag toe dat hy dit vir my ook kom sê dat ek hom kan sê ek “dare” hom om ’n nr 13 paar skoolskoene te kry. Gelukkig steek ouboet se voete daar vas, behalwe die dag wat vroulief werk toe bel en aankondig die nr 12-tekkies pas nie meer nie. Ek is straat op, en straat af, maar nr. 13 tekkies is daar nie. En as die verkoopsman nog ’n nr 12 paar aan my probeer verkwansel en die prys noem, haak ek af met: “Ek soek net ’n paar tekkies. Ek wil nie die hele fabriek, voorraad en al, aanskaf nie. Veral as daar nie nr 13’s is nie.

Later die dag bel vroulief weer, heel verlig. Die nr 12’s pas weer, Daar was ‘n kous of iets voor in die tekkie.

Om alles te kroon, dra kleinboet nou ook nr 13’s. Beide is so ’n kop langer as ek en Joan.

Nou van waar die groot skoene? Die twee knape se een oupagrootjie van hul ma se kant was ’n taamlike reus, en het nr 13’s kerk toe gedra, andersins selfgemaakte sandale, winter en somer. Oupagrootjie se vrou, ouma Joey, was weer klein, en het kwalik by oupa se naeltjie bygekom. Oupa was ook legendaries sterk, tot ’n trekker op hom omgeval het. Na maande in die hospitaal is hy terug na sy plaas Pieringkop toe, maar behalwe vir de nr 13 skoene en die sandale, was niks meer dieselfde nie. Daai vreeslike krag het nooit teruggekeer nie, en ook nie lank nie, moes ’n tamaai kis vir hom in gereedheid gebring word.