Deur Erika Helm
Munisipaliteite is soos besige bye wat zoem om ontwikkeling en befondsing vir projekte met hulle ontwikkelingsplanne en begroting wat tans veronderstel is om aan publieke deelname onderwerp moet word. As jy dus by hierdie aspekte enige belang het en daar was nog geen sprake van publieke konsultasie met die ontwikkelingsplan en begroting nie, moet jy dus baie bekommerd wees. Hierdie tipe aksies kan eensydig gedryf word met konsultasie onder die gekose kieserskorps terwyl die werklike belastingbetalers geensins enige insae het nie, maar tog vir die beursie geld verantwoordelik is.
Daar moet ook duidelikheid wees waar kry die munisipaliteit sy geld vandaan? Die munisipaliteit kry befondsing uit dienste wat gelewer word soos watervoorsiening, kragvoorsiening, vullisverwydering en dergelike ekonomiese dienste waarvoor daar veronderstel is om ‘n spesifieke ooreenkoms te wees vir die diens teen betaling. Dit is hartverskeurend as daar opgemerk word hoe hierdie dienste heeltemal uitmekaar val. Vullis word verwyder indien daar ‘n vragmotor beskikbaar is. Water is in Suid-Afrika ‘n werklike kommer nie net oor die kwaliteit nie, maar kwantiteit kan nie voldoen aan die behoeftes nie. Onder almal se neuse is menige dorpe reeds onderworpe aan beurtwater aangesien dit nie ‘n bron is wat voltyds beskikbaar is nie. Kragvoorsiening vanaf die munisipaliteit is gedompel in onbetroubare waters aangesien onderhoud nie ‘n prioriteit by die munisipaliteit is nie.
Eiendombelasting is verder ‘n finansiele inspuiting vir publieke dienste. Hierdie sluit in die onderhoud van parke, instandhouding van paaie, biblioteke, begraafplase, brandweerdienste en dergelike dienste wat veronderstel is om aan ‘n spesifieke standaard te voldoen. Mens kan dan terugsit en verwonder aan hierdie publieke dienste om ‘n paar van te noem. Parke het die broeines van onheilighede geword waar geen opgevoede mens homself sal bevind nie. Paaie in dorpe is deurtrek van slaggate, biblioteke is geensins ‘n diens wat gebruik word nie weens sosiale media en inligting wat deur hierdie kanale beskikbaar is. Begraafplase is meer gevaarlik as die oorlog in Oekraine en word naasbestaandes selfs van hierdie emosionele behoefte ontroof om berusting te vind by die graf van ‘n geliefde.
Wat verder kommerwekkend is, is die jaarlikse verhoging in eiendombelasting waar sekere munisipaliteite hulle vergryp aan ‘n verhoging bo die aanbeveling van Nasionale Tesourie en hierdie afdwinging van betaling op inwoners toepas. Dit terwyl die algemene inwoner in ‘n stryd is om slegs te oorleef. Die verhoging in lewenskostes is besig om buite beheer te raak en slegs die elite wat kameraadskap by die heersende politieke party het, leef in weelde. Daar is twee tipe inwoners in die land: die sukkelende werkersklas wat elke dag swoeg en sweet om die pot aan die kook te hou terwyl die regering besig is om hom te melk vir meer geld en die welgestelde, bevoorregte minderbevoorregtes wat ingestop word en neerkyk op die mindergegoede inwoners wat nie deel van sy kring is nie.
Hierdie aspekte laat mens wonder en filosofiese waarhede is geuiter dat die geskiedenis homself herhaal. Die prentjie waarin die land homself bevind laat gedagtes van die Franse Rewolusie na vore kom en begin mens wonder of daardie resultaat homself gaan herhaal?
Slegs die toekoms sal die antwoorde kan gee.
Foto: Kelly Sikkema | Unsplash