Vir ‘n kleinsake-eienaar is finansiële beplanning ongetwyfeld kritiek vir oorlewing. Hierdie Februarie moedig ons jou aan om jou finansiële sake agtermekaar te kry deur ’n finansiële padkaart gereed te kry vir die jaar wat voorlê̂. COVID-19, plundery en onluste, en ’n trae ekonomie het ’n verwoestende impak op baie KMO’s gehad. Dis nou die tyd om beheer oor te neem en jou finansiële prioriteite te hersien – dalk met die hulp van ’n betroubare finansiële adviseur of tussenganger.
Hier is vyf wenke om jou onderneming se finansies in orde te kry:
’n Begroting, rekeningkunde, belastingbeplanning, risikobestuur (met inbegrip van versekering en ’n noodfonds), en ’n mate van raming vir die toekoms in te sluit. Ontleed jou rekeninge om insig in prestasie te verkry en bly by met jou boekhouding sodat jy vordering met die bereiking van jou doelwitte kan naspeur. Raadpleeg jou tussenganger as jy hulp nodig het met die opstel van ’n praktiese plan vir die volgende 6-12 maande. Die afgelope 12 maande het bewys dat toestande baie vinnig kan verander. Versekering behoort ‘n kernkomponent van ’n finansiële plan te wees omdat proaktiewe risikobestuur noodsaaklik is.
Vergemaklik jou belasting: Belastingtyd is gewoonlik stresvol. Maar dit hoef nie so te wees nie! Hou jou rekords en boekhouding by om onnodige probleme later te voorkom. Kyk na maniere om jou belastingaftrekkings te maksimaliseer ten einde jou belastinglas te verlig. Raadpleeg weereens jou tussenganger vir die beste maniere om dit te doen.
Wen met kontantvloei: Kontantvloei is vir die meeste kleinsake-eienaars ’n voortdurende probleem. Dit neem tyd om regstreekse en onregstreekse sake-uitgawes en algemene koste doeltreffend te bestuur. Stel ’n grafiek van jou invloei en uitvloei op sodat jy kan verstaan wat aan die gebeur is. Watter aanpassings kan jy doen om die invloei te verhoog en die uitvloei te beperk? Kan jy byvoorbeeld beter tariewe met jou verskaffers beding? Kan jy vroeër faktureer? Waar kan jy koste besnoei? Hoe kan jy jou betaalstaatprosesse verbeter om kontantvloeikontinuïteit – en gelukkige werknemers – te verseker?
Raak ontslae van skuld: Baie ondernemings maak op een of ander vorm van skuld staat. Probeer dit beheer deur te verseker dat die koste van die kapitaal wat jy leen minder is as die verwagte opbrengs. Oorweeg dit om die kleinste skuld eerste af te betaal om fondse vry te stel om die volgende kleinste skuld te betaal, ensovoorts, ten einde ’n positiewe kringloop te skep om van skuld ontslae te raak.
Hou dit apart: Dis veronderstel om reël nommer een te wees, maar in die praktyk kry baie min mense dit reg. Probeer jou persoonlike en professionele finansies apart hou, met afsonderlike kaarte en rekeninge vir elkeen. Sodoende kan jy baie beter op hoogte bly van die vordering met jou onderneming se doelwitte en prestasie.
Dis belangrik om te onthou dat elke onderneming uniek is en ’n nommerpas plan nodig het. Raadpleeg ’n professionele finansiële adviseur vir ’n holistiese padkaart om reg aan die begin van die nuwe jaar jou finansies te hersien.



