Is ons boere nog beleggingswaardig?
Wanneer ons vanuit ‘n ekonomiese hoek na Suid-Afrika kyk, ontstaan daar dadelik ‘n verskeidenheid van vrae waarop ‘n belegger beter antwoorde verwag. Aspekte soos ‘n onveilige omgewing, ongunstige beleid oor ‘n verskeidenheid aspekte, aantasting van privaat besitreg, gebrek aan ekonomiese groei, kaderontplooiing, korrupsie en staatskaping is maar enkele aspekte wat die beleggingswaardigheid van Suid-Afrika bevraagteken.
Ons land is na rommelstatus afgegradeer omdat die markkragte – soos met enige besigheid – die finale sê het.
Net soos wat die land hieroor behoort te besin, moet boere ook vra of hulle boerdery beleggingswaardig is.
Finansiële instellings kyk ook met daardie oog na ‘n boerdery om te bepaal of daar wel finansiering verskaf kan word al dan nie. Die ineenstorting van die Landbank het bepaalde probleme na vore gebring. Die Landbank was veronderstel om die veranderlikes van die landbou-omgewing beter te verstaan en om dan daarvoor te kan kompenseer, maar ongelukkig is dit nie meer die geval nie. Ander finansieringsbronne het nie noodwendig die buigsaamheid wat nodig is om die veranderlikes eie aan landbou te absorbeer nie.
Elke boer moet dus nou ernstig ondersoek doen na die boerdery se finansiële profiel.
Die omstandighede gaan bes moontlik vorentoe nie verbeter nie. Boere gaan steeds oplossings moet vind vir die verskillende aanslae wat hulle te staan kom. Maar, wat soos ‘n paal bo water staan is dat die boerdery-eenhede wat sonder skuld funksioneer in ‘n baie beter posisie is om te beding as diegene wat deel is van die R200miljard landbouskuld.
Dit is belangrik dat boere nou al ‘n volhoubaarheidsontleding doen en nie wag totdat al die gevaarligte flikker om dan te probeer planne maak nie.
‘n Moontlike uitweg is vir verskillende boere om saam te span in ‘n enkele besigheidsentiteit. Die voordele van so ‘n model is die vergrote kapasiteit teenoor ‘n individuele entiteit wat op sy eie probeer oorleef.
Elke plaas is egter ‘n afsonderlike besigheidsentiteit en daarom kan ons nie ‘n algemene model skep wat op alle boere van toepassing sal wees nie.
Vernuwende denke oor die benutting van ons hulpbronne, naamlik die plaas, is iets wat eintlik deurlopend gedoen moet word. Bewaringspraktyke is noodsaaklik vir volhoubaarheid, maar is daar moontlik nog ander inkomstestrome wat ontgin kan word?
Hier kan ons dink aan ander kommoditeite om mee te boer, plaasvakansies met ‘n unieke karakter vir toeriste, staptogte en jeugkampe om kinders en jongmense wat nie daaraan gewoond is nie aan die buitelewe bekend te stel.
Dit lê op enige boer se weg om beleggingswaardig te wees, maar indien jy daarin faal sal die mark ongelukkig ook hiér die laaste woord spreek.
Kyk gerus ook na ons nuwe reeks oor besluitneming
#1 Die belangrikheid van kritiese denke tydens besluitneming.
#2 Hoe dink ek krities vooruit?
#3: Wenke en hulpmiddels vir beter besluitneming