Die strewe na balans
Ek het die afgelope tyd die voorreg gehad om ‘n draai in die Nasionale Kruger Wildtuin te kon maak. Die wonder van die wette van die natuur en hoe dit funksioneer het mens opnuut getref.
Alles in die natuur streef na balans. Waar daar oorbewei is sal die pioniersgrasse eerste hul stempel kom afdruk om sodoende die regte omgewing te skep waar die sub-klimaksgrasse en uiteindelik die klimaksgrasse wel kan begin groei.
Om die voedselketting(s) te ervaar besef mens opnuut die wonderwerk van die Skepping. ‘n Miershoop ontstaan rondom ‘n kierieklapperboom wat uiteindelik veroorsaak dat die boom vrek, maar reg langs die miershoop is daar ‘n horde mierleeu tregtertjies waarmee die mierleeus weer op die miere jag maak.
By ‘n watergat poog ‘n krokodil om ‘n bontkwagga te vang – sonder sukses hierdie keer – maar voor sal daar wel sukses wees met ‘n ander prooi.
Die trotse buffel wat allerweë beskou word as seker die gevaarlikste dier in Afrika, word deur ‘n trop leeus platgetrek en word net daar deel van die leeus se voedselketting – dit terwyl hiënas, jakkalse en ‘n verskeidenheid aasvoëls hulle beurt afwag.
Al hierdie dinge gebeur in ‘n bepaalde balans en al neem dit soms ‘n geruime tyd om te herstel na daar ‘n groot ingrepe plaasgevind het, is die strewe altyd daar om volhoubaarheid na te streef.
Vir ons is daar heelwat te leer vanuit die wette van die natuur. Ongenaakbaar werk daardie kragte en kan ons maak wat ons wil, maar weet dat daardie wette sal seëvier.
Uit genade alleen is ons in beheer gestel van die natuur. Gaan bewerk en bewaak is ‘n duidelike opdrag. Gaan heers oor die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see. Daarmee saam is daar na die sondeval ook duidelik bepaal dat ons in die sweet van ons aangesig ons brood sal verdien.
Op soveel terreine van die lewe moet ons na balans strewe. Vir die boer op die plaas is dit van oorlewingsbelang om na daardie volhoubaarheid te streef in die benutting van die hulpbronne. Die voorreg om te kan boer is iets wat ons nie ligtelik moet laat verbygaan nie. Daagliks het ons as boere die voorreg om te kan woeker en werk as deel van hierdie groot opdrag. Dit is die moeite werd om daarvoor op te staan en getel te word as deel van die strukture wat juis daarvoor beding dat landbou moet leef.
Laat ons elkeen in ons doen en late daarna mik om balans na te streef.