Die land se ekonomie en infrastruktuur is besig om te verbrokkel en selfs in hierdie omstandighede is daar nie ‘n keer aan die vergrypingsaksies van die minderbevoorregtes om hulle rol as allerlaaste gebruiker te speel nie.
In die opsig wil ek graag kortliks verduidelik die wyse waarop ons infrastruktuur se prosesse misbruik word in uitbuiting van die belastinggeld waar daar pogings aangewend word om ons paaie te verbeter aangesien ons belastingbetalers in werklikheid nie besef wat daar buite besig is om te gebeur nie.
Die inwoners en gewoonlik landbou, probeer onophoudelik om die paaie en veral teerpaaie wat deurtrek is van slaggate te verbeter. Daar word verskeie aksies geloods en die inwoners begin self slaggate herstel met ‘n voorafbereide teermengsel. Dit kan die agteruitgang van ‘n pad nie keer nie aangesien gereelde onderhoud noodsaaklik is. Selfs onder hierdie harde werk verbrokkel die pad dat menselewens ingeboet moet word vir swak infrastruktuur wat ongelukke veroorsaak.
Dan kom die goeie nuus – die Nasionale Padagentskap dui aan die pad gaan gerehabiliteer word. Dit juig in ons harte – uiteindelik!
Volgende is die bekendstelling van die projek. Die LUR en almal wat van belang is, of voel hulle is van belang, woon die amptelike okkasie by. Dit is ‘n gejuig, linte word geknip en foto’s word geneem – die media is almal daar.
Wat in werklikheid gebeur is dat hierdie ‘n uitnodiging is aan die gepeupel: Hier is nou ‘n aksie waar daar geskep kan word uit die belastingkas. Dit is nou die kans wat aangegryp moet word!
Die paaie-agentskap besef maar alte goed dat die gepeupel nooit tevrede is nie en protesaksies is aan die orde van die dag oor die geringste ongelukkigheid. Om hierdie tipe boikot-aksies die hok te slaan, is daar ‘n protokol om ‘n projekbestuurskomitee daar te stel. Hierdie komitee bestaan uit verteenwoordigers van die wyk se nedersetting wat deur die gemeenskap aangewys moet word asook tradisionele raadsverteenwoordigers, plaaslike munisipaliteit verteenwoordigers en paaie agentskap verteenwoordigers. Vanuit die projekspan is daar ook verteenwoordigers. Die termyn van hierdie bestuurskomitee is die termyn van die projek.
Die rol van hierdie komitee is om bydraes te lewer vir die gladde verloop van die projek, om die gemeenskap en nedersettings van inligting te voorsien, die projekspan en kontrakteur by te staan, as tussengangers tussen grondeienaars en die kontrakteur op te tree, om sub-kontrakteurs aan te stel om bronne te bekom hoewel die kontrakteur die seggenskap het oor aanstellings, die werwing van arbeid, bystand te verleen in dispute tussen die kontrakteur en die plaaslike werkers, die verteenwoordiging van die verskillende nedersettings, die voorsiening van advies oor hoe die projek geïmplementeer kan word en oor die voordeel wat die plaaslike gemeenskap uit die projek kan verkry.
Dan begin die aksies in werklikheid. Die nedersetting begin druk toepas op die kontrakteur – daar moet substandaard materiaal vanaf die nedersetting gebruik word anders word die projek deur protesaksies gestop. Daar moet bogemiddelde pryse vir dienste/materiaal vanaf die nedersetting betaal word, anders word die projek deur protesaksies gestop. Die kontrakteur word geïntimideer om meer arbeid te gebruik teen R44 per uur (dit is korrek – landbou betaal R25 per uur) as wat oorspronklik begroot is.
Daardie vlagswaaier by so ‘n projek ontvang R44 per uur want volgens die Departement van Arbeid is dit ‘n regverdige vergoeding om nege ure per dag ‘n rooi vlaggie te swaai teen ‘n uiters stadige tempo.
Die komiteelede hulself vergryp hulle deur die aanwysing van subkontrakteurs te beïnvloed sodat dáárdie kontrakteurs aangewys word en hierdie lede weer ‘n finansiële voordeel daaruit kan kry.
En so gaan die projek met stampe en stote voort – elke nou en dan is daar ‘n intimidasiepoging en word die werk deur protesaksies eers gestop. Die kontrakteur moet toegee en daar vlieg ons belastinggeld soos veertjies in die wind…
Ons land se opbou is in werklikheid meer ‘n afbreek deur die vergryping aan belastinggeld wat baie myle kan loop om werklik ‘n verskil te maak. Daar is nie einde hieraan nie – elke werklose persoon wat sy lamsakkigheid agter verskonings wegsteek om nie ‘n dag se harde werk te verrig nie, kom dan in aksie om die maksimum geld te kry vir die minimum bydrae. Hierdie gedrag is nie net teenwoordig in padrojekte nie, maar enige ander projek wat deur die regering onderneem word, van behuisingsprojekte, bouprojekte, gemeenskapsprojekte en so kan ons verder uitbrei.
Waar gaan dit stop?
Wanneer gaan die belastingkas ook in duie stort soos die land se ontwikkeling en ekonomiese vooruitgang as gevolg van die algehele uitbuiting van finansiële hulpbronne? Het hierdie ineenstorting nie reeds werklik gebeur nie? As daar ‘n krisis ontstaan, is die volgende dat die privaatsektor moet bystand gee, help met ontwikkeling. Die privaatsektor moet dan die verskil maak terwyl hierdie sektor reeds sy bydrae gemaak het tot die staatskas maar selfs dit is nie genoeg nie. Wanneer is genoeg, genoeg?
Deur Erika Helm – Voorsitter: Plaaslike regering komitee
Foto: Freepik