President Cyril Ramaphosa het vandag, 23 Januarie 2025, die omstrede Wet op Onteiening onderteken. Hierdie besluit dui op ‘n ernstige aanval op die grondslag van eiendomsreg, wat nie net boere nie, maar alle Suid-Afrikaners bedreig. Die regering hou hierdie wet voor as ‘n instrument vir transformasie en openbare belang, maar die werklikheid is dat dit verreikende negatiewe gevolge vir voedselsekerheid, beleggersvertroue, en ekonomiese stabiliteit sal hê.
Die wet beweer om in lyn te wees met Artikel 25 van die Grondwet, maar sy definisies van “regverdige en billike vergoeding” sowel as “openbare belang” is vaag en oop vir subjektiewe interpretasie. Hierdie grys areas maak voorsiening vir misbruik, korrupsie, en onregverdige praktyke, wat eiendomsbesitters van alle agtergronde in onsekerheid dompel.
“Terwyl die meeste Suid-Afrikaners sukkel om die land se ekonomie aan die gang te kry, bly die regering steeds vasgevang in ‘n oorwinning van ideologie bo ekonomiese realiteite,” sê Bennie van Zyl, TLU SA hoofbestuurder. “Dit is hartseer dat die regering dink hy sal internasionale en plaaslike belegging aanlok na die ondertekening van hierdie wet. TLU SA betreur dit dat Suid-Afrika keer op keer verkeerde keuses maak, maar steeds verwag dat die ekonomie sal groei.”
Ernstige gevolge vir boere en voedselproduksie
Die Suid-Afrikaanse boerderygemeenskap staan reeds voor oorweldigende uitdagings, soos hoë koste, onbestendige markte, en toenemende landelike misdaad. Nou word daar verdere druk op hulle geplaas deur die moontlikheid van grondonteiening wat nie net hul finansiële sekerheid bedreig nie, maar ook hul vermoë om voedselsekerheid vir die land te verseker.
Voedselsekerheid is nie ‘n abstrakte kwessie nie – dit is ‘n lewensbelangrike prioriteit. As die grond waarop ons voedsel verbou word, onteien word sonder die nodige kapasiteit om dit produktief te bestuur, sal miljoene Suid-Afrikaners die gevolge dra in die vorm van stygende kospryse en moontlike voedseltekorte.
Skade aan beleggersvertroue en ekonomiese stabiliteit
Deur die grondslag van eiendomsreg te ondermyn, stuur die regering ‘n gevaarlike boodskap aan plaaslike en internasionale beleggers. Die land se ekonomiese groei hang af van duidelike en konsekwente beleid wat regsekerheid waarborg. Hierdie wet bedreig nie net boere nie, maar alle Suid-Afrikaners wat afhanklik is van ‘n stabiele ekonomie.
TLU SA ondersteun die behoefte om nuwe toetreders toegang tot grond te gee en het reeds in 2005 aan die regering ’n ekonomies volhoubare model voorgehou, waarvolgens dit binne die normale verloop van ekonomiese aktiwiteite kan geskied. Die regering kies egter steeds om ander roetes te volg. Die beskikbaarstelling van grond moet geskied binne ’n markgebaseerde raamwerk wat regte respekteer. Daar mag geen plek wees vir korrupsie en wanbestuur nie, en dit is van kardinale belang dat nuwe toetreders kundige ondersteuning ontvang.
TLU SA doen ‘n ernstige beroep op die regering om die gevaarlike implikasies van hierdie wet te oorweeg en dit onmiddellik te herroep. Hierdie is nie net ‘n landbou-kwessie nie; dit raak elke burger se reg op eiendom en die toekoms van ons land. Suid-Afrika verdien beter as beleid wat die grondslag van ons ekonomie en voedselproduksie in gedrang bring.