Storms het die afgelope week of wat in grootste deel van die land baie skade aangerig aan infrastruktuur, maar ook huishoudings moes deurloop onder die skade wat aangerig is. Die ekonomie is onder druk en inwoners skarrel om elke dag binne hierdie omstandighede die mas op te kom. Die vraag word dan gevra: Hoe kwesbaar is ons dan werklik as ons omstandighede reeds op dun ys loop vir oorlewing en die natuur draai teen die mens?
Elke inwoner is op een of ander manier kwesbaar hetsy dit blootstelling is aan natuurrampe soos ons die afgelope tyd ervaar het, chroniese siektes of selfs honger. Die ander gevaar wat meestal misgekyk en geïgnoreer word, is die blootstelling aan sosiaal, ekonomies en omgewings gevare. Hierdie staan bekend as sosiale kwesbaarheid en bepaal die eienskappe in die samelewing wat ons kwesbaar maak vir natuurrampe, nadelige gesondheid uitkomste en sosiale ongelykhede.
Suid-Afrika is een van die mees ongelyke lande in die wêreld as daar gekyk word na inkomsteverdeling. Armoede het die mensdom onherstelbaar beskadig ten opsigte van die impak van COVID-19 op die ekonomie. Armoede gaan gepaard met voedselonsekerheid – wat ’n situasie is waar sosiaal kwesbare mense nie genoeg voedsame kos kry nie. In die huidige regering met die ongelyke inkomsteverdeling en staatsamptenare geensins die impak van armoede voel nie, word voedselonsekerheid ook nie werklik in ag geneem nie.
Studies is gedoen oor die sosiale kwesbaarheid hoewel dit beperk was, maar wel die oorbevolkte stedelike gebied van Soweto ingesluit het. Hierdie studies is veronderstel om die regering die nodige rigting te gee oor uiters belangrike besluite wat geneem moet word. Die Universiteit van die Witwatersrand het ’n opname gemaak van die sosiale kwesbaarheid van die land om te bepaal wie is kwesbaar asook die verband tussen sosiale kwesbaarheid en huishoudelike voedselonsekerheid te ondersoek. Die sosiale kwesbaarheid is gemeet deur ’n maatskaplike kwesbaarheid-indeksinstrument wat ontwikkel is deur die Verenigde State se sentrums vir siektebeheer en -voorkoming wat vir SA aangepas is.
Die uitkoms van die studie het aangetoon daar is hoë vlakke van sosiale kwesbaarheid ten opsigte van voedselonsekerheid in SA. Ongeveer 20,6% inwoners was sosiaal kwesbaar en 20,4% het voedselonsekerheid beleef.
Die mees kwesbare groepe in die land was:
- Afrikane en
- uitstaande het aangetoon dit was vroulike persone,
- mense wat in landelike gebiede woon,
- lae sosio-ekonomie status beleef,
- sonder hoërskool sertifikate en
- volwassenes ouer as 45 jaar.
Hoe gaan hierdie onsekerheid aangespreek word?
Die regering het verskeie inisiatiewe om maatskaplike ongelykhede in die land aan te spreek soos openbare onderwys en gesondheidsdienste, skoolvoedingskemas en belastingvrystelling van stapelvoedsel soos bruinbrood en rys. Terwyl hierdie skemas met inagneming van korrupsie en wanbesteding wel toegepas word, is dit ’n ope vraag of dit wat gedoen word, genoeg is en is dit nie selektiewe toepassing nie?
Maatskaplike toelaes moet geensins onderskat word nie. Die toelaestelsel bereik 18,4 miljoen begunstigdes wat ongeveer 31% van die bevolking is. Die probleem word egter geskep dat mense afhanklik gemaak word van hierdie toelaes asook dat hierdie toelaes nie kan tred hou met die inflasie in voedselpryse nie. Onkundigheid met die aanwending van die toelaes speel ook ’n belangrike rol aangesien daar bevind is dat die fondse gebruik word vir nie-voedselbenodigdhede soos klere en vervoerkoste. Die oplossing is dus nie in die toelaestelsel om voedselonsekerheid aan te spreek nie.
Die probleem van voedselonsekerheid word beskou as ’n landelike kwessie en oplossings word gesoek in voedselproduksie. Daar sal kreatiewe en geteikende sosiale strategieë ontwikkel moet word om voedselonsekerheid aan te spreek. Die hoogste prioriteit sal wees die verbetering van die ekonomie en die onderwysstelsel om fokusareas uit te lig sodat die inwoners in die situasie waarin hulle hulself bevind, met meer wysheid hulle omstandighede kan hanteer en ’n wending kom in die toepassing van hulpbronne wat wel beskikbaar is.
Is die regering gerat om hierdie regstellende aksies te neem om hierdie tekortkominge aan te spreek? Verseker nie, tans gaan dit om oorlewing vir die regerende party, kiesers tevredenheid en aspekte wat geïmplementeer word om net hulle oorlewing te verseker. Die landbouer en inwoner van die land sal moet besef die druk sal toegepas word vir oorlewing en die inwoner wat iets het, sal gedwing word om te deel. Slegs ’n regering wat sy inwoners se belange as prioriteit stel, sal die bedreiging die hoof kan bied.
Foto Francisco Moreno | Unsplash