Buiten die basiese goed van ‘n afspraak maak met die regte persoon en betyds opdaag, kan die angel van so ‘n gesprek grootliks uitgehaal word deur jouself goed voor te berei.
Afhangend van jou bestaande kredietfasiliteite en/of die omvang van ‘n nuwe kredietversoek, vereis die nuwe era bankregulasies ‘n goed gestruktureerde kredietaansoek wat afhangend van die omvang daarvan, deur verskillende vlakke in ‘n bank se kredietafdeling geprosesseer moet word – dit kan ‘n tydjie vat om al die papierwerk af te handel, veral as inligting ontbreek of onduidelik is.
Die belangrike punt is dat alles wat die bank van jou en jou besigheid weet, op skrif moet wees. Die inligting wat jy na die bank bring moet omvattend genoeg wees dat die bank jou besigheid kan verstaan. Die persoon wat uiteindelik die fasiliteit goedkeur, doen dit op grond van die inligting in die aansoek en stawende bewyse.
Sommige kliënte doen baie professionele voorleggings en maak selfs gebruik van leningopsteller-agentskappe. Hierdie agentskappe skep ‘n volledige besigheidsplan met digitale voorleggings soms selfs video, maar dit is beslis nie nodig om tot daardie uiterstes te gaan nie.
Die eerste ding wat die bank moet verstaan is vir wie die geld geleen moet word. Dit mag dalk snaaks klink, want as boer sou jy reken: “…Maar hier is ek dan nou voor die bank se verteenwoordiger, wie anders wil die geld leen..?!”
Dit mag dalk die geval wees en dan is die aansoek eenvoudig in terme van die aansoeker wat ‘n individu of eenmansaak is. Dit mag egter wees dat die besigheidstruktuur oor tyd verander het en verskillende regsentiteite (trusts, maatskappye ens.) intussen vir bepaalde redes opgerig is, wat beteken dat bates, laste, en kontantstrome uit verskillende hoeke kom. Hierdie struktuur moet baie duidelik uiteen gesit word.
As deel van ‘wie die geld wil leen’ kyk die bank ook na wie die moontlike opvolger(s) en bestuurders is. Waar dit dus van toepassing is, is dit belangrik om vir die bank ‘n uiteensetting te gee van wie wat doen wat in die bBoerdery en hoe kontinuïteit bestuur word.
Vervolgens moet die bank kan bepaal wat jou onderneming se behoefte aan finansiering oor die volgende jaar, sowel as oor die medium termyn is. Die finansiële implikasie van jou besigheidsplan word in die kontantvloeibegroting opgesom. Dit dui ook die bedryfskapitaalbehoefte en die bekostigbaarheid van skulddelgingspaaimente van termynfinansiering aan. Die kontantvloeibegroting is dus vir die bank ‘n uiters belangrike instrument in enige leningsaansoek.
Soms sê boere: “Ek stel nooit ‘n kontantvloei op nie, want hy werk nooit uit nie.” Een van die belangrikste aspekte van ‘n kontantvloeibegroting is die aannames wat gebruik word. Indien jy vir bogemiddelde opbrengste begroot, wat net elke 10 jaar realiseer, sal jou kontantvloei net een uit elke 10 jaar uitwerk.
- Hoe meer realisties jy is met die aannames in jou kontantvloei, hoe meer bruikbaar is dit en hoe groter die kans dat dit wel sal uitwerk;
- Moet nie net uitsluitlik van bedrysfaannames gebruik maak nie. Die aannames moet spesifiek tot jou onderneming wees en moet die vorige jaar se inkomste en uitgawes as basis hê. Jou eerste kontantvloei is heel waarskynlik jou swakste en oor tyd kan jy die akkuraatheid verbeter deur aan die aannames te skaaf.
Landbou is ‘n dinamiese omgewing en daar is gedurig veranderinge in die fisiese sowel as die ekonomiese omgewing. Vir sommige is ‘n jaar se beplanningshorison te ver vooruit en verander die planne op ‘n gereelde basis.
In sommige gevalle word te min aandag gegee aan mediumtermynbeplanning, veral met verwysing na die kapitaalbegroting (vervanging of uitbreiding van infrastruktuur en toerusting).
Banke hou egter nie baie van verrassings nie. As jy dus ‘n plan op die tafel gesit het, waarby die bank ingekoop het, en die bank word dan gereeld verras deur nuwe leningsaansoeke vir die aankoop van grond, infrastruktuur en toerusting wat die skuldlas dramaties verhoog, kan dit tot ongemak ly indien dit nie voortydig as deel van die medium-termyn plan aan die bank gekommunikeer is nie.
Dit is verder belangrik om afwykings, as dinge verkeerd loop en die plan nie uitwerk nie, so gou moontlik met die bank te bespreek.
Dit is dan nodig om aan te dui:
– Wat die rede(s) vir die afwyking van die plan is (eksterne of interne oorsake);
– Hoe dit in die toekoms verhoed kan word; en
– wat die nuwe plan is om dit reg te stel.
Vervolgens kyk banke ook na die kapitaalstruktuur van jou boerdery/besigheid – in kort opgesom, jou balansstaat.
Boerdery balansstate se boekwaardes weerspieël in baie gevalle nie die realistiese waardes van bates nie en dit is dus belangrik dat ‘n uiteensetting daarvan gemaak moet word.
Die verwantskappe wat bestaan tussen items in die balansstaat en dit wat met die inkomste- en kontantvloei gedeelte van jou boerdery gebeur, moet sin maak. In baie gevalle plaas boere ‘n oormatige klem op die balansstaat en verwys na die indrukwekkende totale waarde van die bates wat dan as die enkele motivering vir finansiering moet dien. Die opbrengs (wins) wat die bates lewer – wat moet dien as bron van terugbetaling – is egter onvoldoende om die leningsbedrag te ondersteun.
Eers na al hierdie aspekte ondersoek is, oorweeg die bank hoeveel en watter tipe sekuriteit is nodig om die leningsaansoek te ondersteun.
Banke se voortbestaan is gekoppel aan hul kliënte se voortbestaan en daarom sal banke daarna streef om ‘n volhoubare finansieringsoplossing vir sy kliënt voor te lê. Nooi die bankbestuurder om jou op die plaas te kom besoek, dan wys jy hom al die goed wat vir jou na aan die hart lê. Jy kan maar spog!





