Kultuur is ‘n klein woordjie wat algemeen gebruik word in skole om gewoonlik die aktiwiteite te beskryf wat nie onder die tema van sport geklassifiseer kan word nie. Dus skep dit ‘n baie beperkte begrip van die woord by ons mense vanaf ‘n baie jong ouderdom. Kultuur is egter een van die mees omvangryke begrippe in die Afrikaanse taal. In hierdie artikel word daar dieper gedelf om die ware betekenis van die woord te ontdek.
Kultuur dui nie net op sekere aktiwiteite waaraan ‘n mens kan deelneem nie. Dit is die somtotaal van die mens se handelinge. Dit sluit alles van jou menswees in en is ook die bepalende element van die mens se identiteit. Dit sluit nie net jou handelinge in nie, maar spreek ook tot die motivering en wyse van jou handelinge. Vir die Christen beteken dit dat hy vanuit die Woord juis ‘n kultuuropdrag gekry het om al sy handelinge volgens God se verordeninge te rig. Kultuur sluit jou geskiedenis, taal, geloof, eetgewoontes, kleredrag, moraliteit, opvoeding, opleiding en wêreldbeskouing in. Daarom is dit belangrik om aan elke element van hierdie lotbepalende deel van jou bestaan aandag te gee.
Ongelukkig word kultuur en kulturele aktiwiteite vandag as ‘n luuksheid gesien wat ‘n mens slegs kan beoefen wanneer jy in die vyfde vlak van Maslow se hiërargie van behoeftes val. Dit wil sê nadat jy aan jou mees basiese behoeftes soos voeding en skuiling, dan aan veiligheid en sekuriteit, jou behoefte aan liefde en ‘n gevoel van verborgenheid, en ‘n behoefte aan erkenning, respek en status voldoen het. Slegs dan kan jy jou bemoei met ‘n luuksheid soos kultuur. Die geskiedenis bewys hierdie redenasie egter verkeerd vir die wat hulle geskiedenis nog goed genoeg ken.
Die Afrikaner se verlede is besaai met ‘n rykdom van kulturele aktiwiteite en inisiatiewe wat verrykende gevolge oor dekades heen gehad het. Meeste van hierdie inisiatiewe is nie gebore in ‘n tyd van oorvloed of selfverwesenliking nie, maar juis in ‘n tyd toe die mense nie aan hulle mees basiese behoeftes kon voorsien nie. Die jare na die afloop van die Anglo-Boereoorlog is sekerlik van die donkerste tye in boere se geskiedenis. Boere het gebroke uit bannelingskap teruggekeer na afgebrande plase en vars kindergrafte. ‘n Vrou het dikwels alleen teruggekeer plaas toe, sonder haar gesin wat deur die oorlog geëis is. Maar uit die ashoop van ‘n verskroeide aarde word daar ‘n nuwe samelewing gebou wat uiteindelik sorg dat die onafhanklikheid wat na die oorlog verloor is, teruggekry word tot so ‘n mate dat dit die hele Republiek van Suid-Afrika insluit.
In hierdie tyd word daar aan kommersiële aktiwiteite aandag gegee met die stigting van maatskappye soos Sanlam, Santam en Volkskasbank. Daar word ook kommunikasie middele gestig in die vorm van koerante soos die Volksblad. Buiten vir hierdie ekonomiese aktiwiteite word daar ook aan die kulturele elemente aandag gegee met die stigting van die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). Die FAK se eerste taak is om die sentrale volksmonumente-komitee saam te stel wat die doel het om uiting te gee aan Paul Kruger se wens van 16 Desember 1888 dat daar ‘n monument gebou moet word om die grootsheid van die dade van die Voortrekkers in die volk se geheue te verewig. Later word organisasies soos die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys (VCHO) gestig om klem te lê daarop dat elke faset van die lewe aan die heerskappy van God drie-Enig onderwerp moet wees, en om te sorg dat hierdie beginsel reeds op skoolvlak aan kinders oorgedra word. Ongelukkig het van hierdie organisasies mettertyd reeds hulle begronding verloor en ingekoop op die denkwyse van die nuwe Suid-Afrika.
Die 20ste eeu kan vandag gesien word as die goue jare van die Afrikaners waartydens hulle nie net ongekende verliese gely het, en die swaarste denkbare tye deurleef het nie, maar ook ‘n tydperk waarin die volk sy eie veerkragtigheid ontdek het, en waartydens hy homself uit die verderf uit presteer het. Die wending het gekom met die aanvang van die nuwe demokratiese bestel in Suid-Afrika. Vir die afgelope drie dekades word ons kinders nie meer geleer van die prestasies van hulle voorgeslagte nie, maar word die blink verlede van die Afrikaner gekriminaliseer tot op die punt waar ons vandag kultureel verarm geword het in ons onkunde van ons eie verlede. Daarom word kultuur vandag gesien as die luuksheid waaraan die elite kan deelneem en dat dit nie beskore is vir Jan Alleman nie. Dit kan egter nie verder van die waarheid af wees nie.
Die Afrikaner-landbouer verwys graag en met groot liefde na homself as ‘n boer. Ons moet egter nooit vergeet wat die dualiteit van die term is nie. Om te boer is ‘n ekonomiese aktiwiteit waaraan enige een kan deelneem. Om ‘n boer te wees, is ‘n kulturele identiteit wat grondslag vind in die verlede, gebruike en veerkragtigheid van ‘n volk wat homself onder verdrukking uit presteer het. As jy stilswyend die kriminalisering van jou geskiedenis toekyk, sal jou kinders binnekort net kan boer onder die omstandighede wat die staat toeskryf met gedwonge Marxistiese beginsels, en nie meer boere wees waar rentmeesterskap en jou kultuuropdrag uit die Woord jou rigsnoer en onderbou sal wees nie.