Munisipaliteite is tans besig om die finale implimentering te bewerkstellig van waardeerders waar algemene Waardasierolle onderneem moet word vir implimentering in die finansiële jaar 2023/2024. Die aangestelde waardeerder sal dus in die volgende paar maande baie aktief wees in die bepaling van eiendomwaardasies binne die munisipale gebied. Dit is dus van uiterste belang dat alle grondeienaars deeglik bewus is van die aspekte wanneer waardasie op eiendom gedoen word vir die doel van die opneem van die eiendomswaarde in die waardasierol wat direk die berekening van
eiendomsbelasting gaan beïnvloed.
U as grondeienaar moet bewus wees dat die wetgewing voorsiening maak die waardeerder het die opsie om ’n oorsig studie te maak van eiendom en die waardasies daarvolgens te doen. Dit beteken dat die waardeerder geensins die eiendom hoef te besoek nie. Veral in landbou-eiendom het die waardeerder die opsie om te bepaal wat die bedrag per hektaar vir spesifieke eiendom beloop en eiendom wat aan daardie beskrywing voldoen, per hektaar te bereken teen die vasgestelde bedrag.
Die vraag sal dan ontstaan – wat is die vasgestelde bedrag en hoe word dit verkry? Die waardeerder kan by wyse van die akte kantoor nagaan in terme van eiendom wat binne die voorafgaande 12 maande verhandel het, en die waarde daarvan as basis gebruik. Dit is natuurlik onder die voorwaarde dat die verhandeling binne ’n natuurlike proses voorafgegaan is waar ’n gewillige verkoper en ’n gewillige verkoper sonder enige druk die eiendom verkoop het in ’n vryemark. Waar eiendom binne dieselfde boerdery “geskuif” het deur die koop/verkoop binne dieselfde besigheidsbestek verhandel het, is daar dan vanselfsprekend ’n bekommernis aangesien hierdie verhandeling direk ’n invloed gaan hê op die waarde van eiendom binne die spesifieke gebied. Vir hierdie doel moet grondeienaars baie noukeurig die waardasierol nagaan om te verseker dat hulle eiendom korrek gewaardeer is en die waardasie nie opgeblaas is deur inligting wat nie die korrekte situasie weerspieël nie.
Grondeienaars moet seker maak wanneer die waardasierol beskikbaar is, dat daar sonder versuim inspeksie gedoen word aangesien daar slegs ’n spesifieke tydperk beskikbaar sal wees om foutiewe inligting reg te stel. Die grondeienaar kan by wyse van beswaar aantekening die foutiewe inligting aan die waardeerder deurgee wat die inligting sal ontleed en daarvolgens ’n besluit neem om die waarde aan te pas. Daar is egter ’n ernstige waarskuwing: Grondeienaars moet nie die geleentheid misbruik om slegs beswaar aan te teken as daar nie sekerheid is dat die waarde van die eiendom wel foutief is nie. Die waardeerder kan by fisiese ondersoek bepaal of die oorspronklike waardasie moontlik onder die markwaarde was en kan die waarde aangepas word na ’n hoër bedrag wat beteken die grondeienaar gaan ‘n groter bedrag eiendomsbelasting betaal as wat oorspronklik van toepassing sou wees.
Die waarde van eiendom is die basis waarop eiendomsbelasting bereken word. Die tarief van die spesifieke kategorie word bereken op die waarde van die eiendom. Grondeienaars moet verder ook bewus wees dat die tarief van toepassing kan wees op die gebruik van die eiendom en nie soseer die sonering daarvan nie. Waar kleinhoewe eiendom gebruik word vir slegs wonings kan die waardeerder daardie spesifieke eiendom waardeer onder die tarief vir residensieel ten spyte van sonering moontlik vir landbou.
U as grondeienaar moet te alle tye bewus wees dat daar tans in terme van eiendomwaardasies deur munisipaliteite, hierdie waardasie slegs vir eiendomsbelasting aangewend mag word en geensins vir onteiening of enige ander doel nie. Waar enige ander doel toegepas word, moet daar ’n toepaslike waardasie weer gedoen word om die waarde te bepaal. Waarde van eiendom kan binne ’n bestek van maande wysig weens faktore in die omgewing en die mark en daarom is dit belangrik dat eiendom vir enige doel buite eiendomsbelasting, tydens die spesifieke tydperk waarop so ’n transaksie sal plaasvind, weer gewaardeer word.
Grondeienaars moet alle aspekte in ag neem wanneer daar oorweging gegee word aan die waarde van eiendom. Eskom serwituut lyne, spoorlyne, provinsiale en nasionale paaie is van die verskeie faktore wat ’n invloed het op die waardasie van eiendom. Wees op die uitkyk vir die waardasierol hetsy daar ’n algemene of aanvullende waardasierol uitgereik word, moet nie te laat besef die kans is verby om enige aksie te neem nie. As die waardasierol aanvaar is deur die raad vir implementering is daar geen geleentheid vir die grondeienaar om enige aksies te neem nie tensy dit deur ’n regsproses geïnisieer word wat die grondeienaar finansieel heelwat gaan kos.