Op munisipale vlak gons dit van die bedrywighede. Vergaderings word geskeduleer met hoofmanne van stamme en gemeenskappe word bymekaar geroep. Duisende rande word aan kos en verversings spandeer en te midde van die partytjiegees word daar weereens beloftes aan potensiële kiesers gemaak. Ontwikkelingsplan- en begrotingsvergaderings word gekenmerk aan die bekendstelling van die party wat aan die stuur van die munisipale raad is.
Die teikenmark moet besef wie is wie – asof die vorige vyf jaar in ‘n algehele duisternis gehul is en niemand weet wat aangaan nie. Die gehoor word sommer so tussenin versoek om applous aan enige bekendstelling te gee. Dit is ‘n gespog met enige prestasie moontlik en die raad word vir elke daad wat dalk ‘n verskil kon gemaak het, geprys.
Terwyl daar in blink klere voorgegee word, is dit altyd die gedagte om net weer te onthou, waar was ons die afgelope vyf jaar? Was daar ‘n groot verskil gewees? Die paaie val uitmekaar – daar is nie behoorlike skrapers nie en operateurs is baie skaars. Waar paaie wel geskraap is, is dit nie behoorlik gedoen nie. Sportstadions is vervalle. Gemeenskapsale is verwaarloos en gestroop van alle waardigheid.
Klinieke en skole beskik nie oor voldoende voorraad om aan die behoeftes van die inwoners te voldoen nie. Daar is optogte terwyl die inwoners met plakkate selfs in die nagtelike ure of op vakansiedae probeer om hul gewig rond te gooi en hul stem te laat hoor, al is dit slegs ‘n magsvertoon in aanloop tot die verkiesing.
Wat ons moet besef, is dat ons tans in ‘n voorverkiesing tydperk is en beloftes maar net nog ‘n wyse is om kiesers na sekere partye te lok. Jou stem is vir hulle belangrik sodat húl mense in die raad kan dien – hoe suksesvol of ten gunste van die gemeenskappe hul optrede is, is nie van belang nie. Daar is altyd geld op die spel – vir die raadslede en in die hierargie van die munisipaliteit waar broodjies vir boeties verder uitgedeel word. In dit alles is die landbouer, wat ekonomies volhoubaar voedsel op die tafel moet sit, die teiken.
Ten spyte van die gespog en vermaaklikhede deur die munisipale raad, is die groter prentjie duister, bloot ‘n dowwe lig in die donker tonnel. Ten spyte van alle pogings, is die kragte teen die landbouer en sommige van ons boere struikel, probeer voortbeur om hul taak as landbouer in geloof te na te kom. Dit is in hierdie stryd wat die boer baie vrae vra. Daar is verskeie faktore wat ‘n rol speel en teen die voortbestaan van die landbouer indruis. Ons hoofbestuurder het duidelik gestel dat Suid-Afrika gebuk gaan onder regeringsbeleid wat in die praktyk poog om sosialisme en kommunisme te vestig. Privaat besitreg en ‘n markgerigte ekonomiese bestel is nie prioriteit nie.
TLU SA volhard om in die behoeftes van ons landbouers te kan voorsien. Die Landbou Meesterplan is weer op die tafel en gaan ‘n daadwerklike invloed op die landbouer hê, om slegs een van TLU SA se aksies te meld. Ten spyte daarvan sal alle landbouers moet planne maak en hande vat om die nodige kapasiteit te skep wat oorlewing moontlik maak. Op plaaslike regeringsvlak is daar ‘n ernstige beroep op gemeenskappe om by die hantering van plaaslike aangeleenthede betrokke te raak.
Die plaaslike regeringskomitee bied die nodige kundigheid en kennis om met vertroue toepaslik op grondvlak betrokke te raak en ‘n impak op die faktore wat negatief kan inwerk op die landbou sektor, te maak.
Laat ons binne die landbousektor ons eie aksies ondersteun en ons resultate blink poets tot voordeel van ons mense.
Geskryf deur Erika Helm, voorsitter van TLU SA se Plaaslike Regering Komitee





