Die negende Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie was ’n reuse-sukses en ’n voormalige kuilvoerkoning het vanjaar weer die kroon gedra. Shane Simpson en sy span by Simpson & Son Farming het die titel ’n tweede keer opgeraap, met ’n mieliekuilvoerbunker wat as toppresteerder in die mieliekategorie en algeheel aangewys is. Dewald te Water het die voersorghum-kategorie gewen met ’n kuilvoerbaal en Johan Zwiegelaar van Kadie Boerdery, ’n nuwe toetreder tot die kompetisie, is die wenner van die hawer-afdeling.
Plaas Media se kompetisie, wat jaarliks onder die vaandel van Veeplaas en Stockfarm aangebied word, het vanjaar weer 103 inskrywings ontvang. Dit ewenaar die rekord aantal inskrywings wat in 2021 ontvang is. Terselfdertyd is twee nuwe borge ook verwelkom.
Vanjaar se borge
Santam Landbou was vanjaar weereens die naamborg van die kompetisie, en het reeds bevestig dat hulle weer aan boord is vir 2023. Hulle betrokkenheid as naamborg is sentraal tot die sukses van die kompetisie. Twee nuwe borge, Pioneer Saad en TWK Agri, het ook vanjaar hul buiging gemaak.
Soos in ander jare het verskeie deelnemende maatskappye pryse geborg vir die algehele wenner, kategoriewenners, asook vir tweede- en derde-plek kandidate in die kategorieë. Vanjaar se prysborge was Pannar Saad, Nutribase, Strapping & Profile, Kemin Industries, Pioneer Saad en TWK Agri. Labworld het vanjaar weer as die kompetisie se laboratoriumvennoot opgetree.
Een van die vereistes van prysborgskap is dat die borg ook kuilvoer-inskrywings van hul kliënte moet indien. Borgaansoeke vir 2023 sal vir nuwe maatskappye open sodra huidige borgskappe eerste opsie ontvang het en hernu is. Maak dus seker jy hou ons sosiale media-platforms drop vir meer inligting hieroor.
2021 se rekord-inskrywings geëwenaar
Vanjaar se 103 inskrywings het bestaan uit 75 mieliekuilvoere, 20 kleingraankuilvoere (hawer), vyf voersorghumkuilvoere en drie ander gewasse in die oop kategorie. ’n Totaal van 22 maatskappye en produsente het hul kliënte of eie plase ingeskryf.
Maatskappye wat deelgeneem het was Sentraal-Suid Koöperasie, Nova Feeds / Quantum Foods, Kemin Industries, AFGRI Veevoere, BSure Insurance Advisors, EC Contracting, Exact Silage, TWK Agri, Boland Agri Solutions, Nutribase, Bridgewater Trading Trust, Budissa Bag, Sparta Taaiboschbult, Saxeni Holdings, Pannar Saad, Sparta Beef Marquard, Lake Agriculture, Meadow Feeds Natal, Pioneer Saad, Simpson & Son Farming, Strapping & Profile Manufacturers en Stratford Farming.
Twee van hierdie maatskappye neem al van die eerste jaar af ononderbroke in die kompetisie deel – hulle is AFGRI Veevoere, wat tot op datum die meeste inskrywings gehad het en elke jaar deelneem, asook Sparta Beef, wat elke jaar inskryf. Ons wil graag vir hierdie maatskappye dankie sê vir hulle deurlopende ondersteuning van die kompetisie.
Die monsternemingsproses
Monsterneming is deur vier studente van verskillende plaaslike universiteite gedoen –JG Els en Andries van der Merwe van die Universiteit van die Vrystaat, en Jaydi Stemmet en Timothy Chilemba van die Universiteit van Pretoria. Richardt Venter van AGSCI Unlimited, mede-koördineerder van die kompetisie, het die studente vooraf in die monsternemingsproses opgelei.
Die monsters is weereens in die bekwame hande van dr Elrisa Taljaard en haar span by Labworld geplaas vir toetsing. Die data-ontleding is deur die stigter en beskermheer van die kompetisieprotokol, prof Robin Meeske van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Outeniqua Navorsingsplaas, gedoen.
Die wenners
Hierdie jaar se kompetisie onder die finaliste was straf, met voormalige wenners en nuwelinge wat meegeding het om kategorie-wenner status en die titel van kuilvoerkoning. Vanjaar se kompetisie was ook gekenmerk deur verskeie kuilvoerbaal-inskrywings wat in aanmerking kon kom vir hierdie titels, mits die bale ingeskryf was in die formele kategorieë vir mielies, voersorghum en hawer.
Die voersorghum-kategorie spog met ’n nuwe wenner vir 2022:
- 3rde plek: Pieter Hamman van Berg en Dal Boerdery, grondwal-bunker ingeskryf deur AFGRI Veevoere.
- 2de plek: Marcu van Rensburg van Winterstorm Investments, sementbunker ingeskryf deur Kemin Industries.
- 1ste plek: Dewald te Water van Exact Silage, kuilvoerbaal wat hulle self ingeskryf het.
In die hawerkategorie het ‘n nuwe deelnemer koning gekraai:
- 3de plek: JK Basson van Ocean Breeze Holsteins, sementbunker ingeskryf deur Quantum Foods / Nova Feeds.
- 2de plek: Johan Mostert van Dassenvaley, grondwal-bunker ingeskryf deur AFGRI Veevoere.
- 1ste plek: Johan Zwiegelaar van Kadie Boerdery, grondwal-bunker ingeskryf deur Kemin Industries.
In die mieliekategorie het ‘n voormalige wenner met die louere weggestap, terwyl die derde plek ook deur ‘n voormalige wenner ingeneem is, en ‘n kuilvoerbaal vir die eerste keer in tweede posisie geëindig het:
- 3de plek: Hano Lombard van Westend Landgoed, grondwal-bunker ingeskryf deur Nutribase. Hano en sy span by Westend Landgoed het hierdie kategorie en die algehele kompetisie in 2017, 2018, 2019 en 2021 gewen.
- 2de plek: Dewald te Water van Exact Silage, kuilvoerbaal wat hulle self ingeskryf het. Dewald is ook die wenner in die voersorghum-kategorie.
- 1ste plek: Shane Simpson van Simpson & Son Farming, wat hulself ingeskryf het in vanjaar se kompetisie. Shane was in 2020 die mieliekategorie-wenner asook algehele wenner.
Ons gelukwensinge gaan al vanjaar se wenners, maar ook aan die deelnemers wie se kuilvoer jaar na jaar merkbaar verbeter. Skaf gerus die Desember-uitgawe van Veeplaas en Stockfarm aan om meer te lees oor die kompetisiedata en -tendense.
Vir meer inligting oor 2023 se kompetisie asook borgskappe, kontak Deidré Louw by 066 231 2430 of deidre@plaasmedia.co.za.